Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Met ’n motor vir harde werk beloon

Die toppresteerder in Mpumalanga is Vrydag op die provinsiale prysuitdeling met ’n splinternuwe motor verras om haar vir haar harde werk te beloon.

Natasha Agostinho
Natasha Agostinho, oudleerling van die Hoërskool Bergvlam op Mbombela, in haar nuwe motor. Sy is as die toppresteerder in Mpumalanga aangewys.

Natasha Agostinho (18) was hoofmeisie van die Hoërskool Bergvlam op Mbombela.

Sy het agt onderskeidings behaal: in Engels (huistaal), Afrikaans (eerste addisionele taal), fisiese wetenskappe, geskiedenis, lewenswetenskappe, rekeningkunde, wiskunde en lewensoriëntering.

Benewens ’n beurs en ander pryse het sy ’n Toyota IGO ontvang wat deur die departement van onderwys in Mpumalanga geborg is.

“Ek voel baie goed oor al die pryse wat ek gekry het. Ek het op die beurs gehoop, maar alles anders is ’n bonus.”

Agostinho het sedert gr. 4 hard gewerk om as die toppresteerder in die provinsie aangewys te word.

Haar suster wat toe in gr. 12 was, het haar aangemoedig om haar beste te gee.

“Dis iets wat ek nog altyd wou hê. Ek was net nie seker of ek hard genoeg gewerk het nie.”

Haar ma, Ligia, sê haar dogter het baie hard gewerk en tot die einde deurgedruk.

“Sy was hoofmeisie en het baie ander verpligtinge gehad. Ek en haar broer het al die werk by die huis gedoen sodat sy kon leer. Soms het sy tot 02:00 in die oggend geleer.”

Natasha gaan vanjaar medies aan die Universiteit van Kaapstad studeer.

Sy is een van tien toppresteerders wat Vrydag vereer is op ’n geleentheid wat Sibusiso Malaza, LUR vir onderwys in Mpumalanga, aangebied het.

Altesaam 44 612 leerlinge het verlede jaar hul gr. 12-eksamen in Mpumalanga afgelê.

Die provinsie is op vier na die beste in die land met ’n slaagsyfer van 79%. Dit is ’n verbetering van 4,2 persentasiepunte op 2017 se syfer.

Volgens Malaza het 13 199 leerlinge met universiteitsvrystelling geslaag.

In 26 van die 556 eksamensentrums in die provinsie is ’n 100%-slaagsyfer behaal.

Volgens hom het die Hoërskool Nelspruit die beste gevaar. Altesaam 226 van die 267 2018-matriekleerlinge het met universiteitsvrystelling geslaag.

Die skool wat die meeste verbeter het, is die Mchaka High School in die Bohlabela-distrik.

“Die departement is egter bekommerd daaroor dat daar nog skole is wat aanhoudend minder as 70% kry,” sê Malaza.

Die 10 toppresteerders:

1. Natasha Agostinho, Hoërskool Bergvlam, Mbombela;

2. Neo Mkhabela, Hoërskool Bergvlam;

3. Wehan Viljoen, Hoërskool Nelspruit, Mbombela;

4. Muzomuhle Mthemu, Ndlela Secondary School, Piet Retief

5. Rose Thanjan, Hoërskool Evander op Evander;

6. Vutomi Khoza, Khutsalani Secondary School in Kabokweni naby Mbombela;

7. Johann Naduileparambil, Hoërskool Bergvlam;

8. Shane Makamu, The Oasis College, Witrivier;

9. Smangaliso Simenane, Kiriyatswane Secondary School in Mbalenhle, Secunda; en

10. Bandisa Masilela, Suikerland Secondary School, Malelane.

Beste distrikte:

1. Enhlanzeni (82,3%)

2. Nkangala (78,7%)

3. Gert Sibande (77,5%)

4. Bohlabela (76,9%)

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.