Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Noordwes: Slaagsyfer daal met 10%, maar ‘gehalte beter’

Noordwes se matriekslaagsyfer het wel met 10,6% gedaal, maar die klas van 2020 het meer onderskeidings as hul voorgangers behaal.

Meer leerlinge het ook toegang tot graad- en kollegestudies behaal, het Mmaphefo Matsemela, LUR vir onderwys in Noordwes, Dinsdag in Potchefstroom bekend gemaak.

“Die gehalte van die 2020-uitslae is dus beter as 2019 s’n.”

Mmaphefo Matsemela, LUR vir onderwys in Noordwes, praat Dinsdag in Potchefstroom oor die provinsie se matriekuitslae. Foto: Susan Cilliers

Noordwes se 2020-matriekslaagsyfer is 76,2% teenoor 2019 se 86,8%. Die provinsie beklee nou die vyfde plek landwyd nadat dit in 2019 derde was.

Matsemela het gesê hoewel daar ingrepe was om die invloed van die Covid-19-pandemie te probeer beperk, het dit gewis ’n uitwerking op matriekleerlinge se onderrig gehad.

“Dit was ’n moeilike jaar vol uitdagings, maar danksy ons onderwysers se toewyding en die leerlinge wat vasgebyt het, het ons dit gemaak. Ons het minder onderrig-ure gehad, kinders moes meer op hul eie studeer en het minder kontak met hul onderwysers en medeleerlinge gehad. Hulle het ook nie in Junie eksamen geskryf nie en leerkampe kon weens die inperkingsregulasies nie soos normaalweg voortgaan nie.”

38 292 leerlinge het in 2020 matriek in Noordwes geskryf.

288 van die 433 skole in die provinsie het ’n slaagsyfer van 70% of hoër. Meer skole het egter onderpresteer met ’n slaagsyfer van laer as 70%, vergeleke met 2019.

Aan die ander kant het 11 820 leerlinge toegang tot graadstudies verwerf, vergeleke met 2019 se 9 964.

Die matrikulante van 2020 het 7 626 onderskeidings behaal – dit is ook meer as 2019 se 7 298.

Skole vir leerlinge met spesiale behoeftes het goed presteer. Die Meerhofskool in Brits het ’n slaagsyfer van 100%, terwyl die Christiana School for the Blind met ’n 92,3%-slaagsyfer spog.

Topskole in die provinsie is oudergewoonte in verskillende kategorieë verdeel. Die Hoërskool Rustenburg beklee twee topposisies. Die Potchefstroom Gimnasium, die Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp en die Al-Huda Muslim School in Klerksdorp is almal in meer as een kategorie onder die topskole.

Die meeste leerlinge wat geslaag het:

1: Hoërskool Wesvalia (142 kandidate)

2. Potchefstroom Gimnasium (140)

3. Hoërskool Brits (123)

(Al dié skole het ’n 100%-slaagsyfer.)

Skole met die hoogste persentasie leerlinge met toegang tot graadstudies:

1. Al-Huda Muslim School (100%)

2. Hoërskool Ventersdorp (100%)

3. Hoërskool Wesvalia (91,5%)

• Skole met die meeste leerlinge wat vir graadstudies kwalifiseer:

1. Hoërskool Rustenburg (226 uit 279 kandidate)

2. H.F. Tlou Secondary School in Rustenburg (150 uit 209)

3. B.A. Seobi Secondary School in Potchefstroom (138 uit 201)

Skole met die hoogste persentasie onderskeidings. Dit word bereken met inagneming van die totale getal vakke wat by die skool geneem kan word:

1. Potchefstroom High School for Girls (24,3%)

2. Hoërskool Ferdinand Postma in Potchefstroom (23,4%)

3. Al-Huda Muslim School (23%)

• Skole met die meeste onderskeidings:

1. Hoërskool Rustenburg (257).

2. Hoërskool Wesvalia (162).

3. Potchefstroom Gimnasium (156).

Meer oor:  Noordwes  |  Matriekeksamen  |  Matrieks  |  Matriek 2020  |  Matriekslaagsyfer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.