Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Skool in Elsiesrivier vier groot styging in slaagsyfer

’n Groot styging in die slaagsyfer van ’n hoërskool in Elsiesrivier, Kaapstad, is Dinsdag tydens ’n besoek van Debbie Schäfer, LUR vir onderwys, gevier.

Die Elswood Secondary School spog met sy matrieks se slaagsyfer wat met byna 30 persentasiepunte teenoor 2019 gestyg het.

Schäfer het die middag met die uitreiking van die skool se matriekuitslae gesê dié styging is behaal terwyl 18 meer leerlinge verlede jaar die matriekeksamen geskryf het as in 2019.

Die Elswood Secondary School in Kaapstad vier Dinsdag hul matriekuitslae. Chrishanna van Rhyn, Jo-Anne Fortuin, Taselee Hendricks, Lee-Zhann van der Spuy, Zoë Hendricks, Charné Claasen en Lee-Anne Fenskey is verheug. Foto: Jaco Marais

Die skool se slaagsyfer het van 55% in 2019 tot 83% in 2020 gestyg.

Daarby het 28 leerlinge universiteitsvrystelling behaal, teenoor minder as tien die vorige jaar.

“Dit verg baie om aan te hou met matriek in ’n gebied wat reeds probleme ervaar en dan ook nog met Covid-19 te doen het,” het Schäfer in ’n toespraak gesê.

Sy het die skool gelukgewens met die hoër slaagsyfer en gesê sy hoop die skool sal onder leiding van die hoof daarmee voortgaan.

Schäfer het laatmiddag in ’n verklaring gesê die Zwartberg High School, die Intshukumo Secondary School, die Forest Heights High School, die Lotus Secondary School en die Sizimisele Secondary School het soortgelyke stygings van hul slaagsyfers, of selfs meer, gesien.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, Wendy Horn, direkteur van die Metro-noord-onderwysdistrik, en Marlon Kiewiet, hoof van die Elswood Secondary School. Foto: Verskaf (WKOD)

Die Metro-noord-distrik is die Wes-Kaap se voorloper met ’n slaagsyfer van 85,1%, wat dit onder die toptien onderwysdistrikte in die land plaas.

Die Metro-sentraal-distrik het ’n slaagsyfer van 82,8%, gevolg deur die Weskus (82,2%), die Overberg (80,4%), Eden en Sentraal-Karoo (79,1%), Kaapse Wynlande (78,5%), Metro-suid (78,3%) en Metro-oos (73,2%).

Marlon Kiewiet, skoolhoof van die Elswood Secondary School, sê die styging in die slaagsyfer is ’n baie trotse oomblik vir die skool.

Hoewel die matrieks nou oudleerlinge is, sal hulle altyd deel van die skool wees, sê Kiewiet.

Vir dié wat universiteitsvrystelling ontvang het, is die “wêreld nou oop” en die ander leerlinge het ook geleenthede om by tegniese kolleges verder te studeer, sê hy.

Wesley Swartz, 2020 se hoofseun van die Elswood Secondary School, ontvang sy matriekuitslae, met vier onderskeidings. Foto: Jaco Marais

“Ons wil hê ons leerlinge moet suksesvol wees. Daar is opsies soos aanvullende eksamens en ons wil hulle aanmoedig om dié geleenthede te gebruik. Die skool se deure bly oop vir jou.”

Wesley Swartz, verlede jaar se hoofseun, het vier onderskeidings behaal en sê hy het nog nie kans gehad om sy uitslae deur te gaan sedert hy dié nuus ontvang het nie. Swartz sê hy wil regte studeer aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) of die Universiteit van Kaapstad (UK).

Brian Schreuder, hoof van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het Dinsdagmiddag alle leerlinge, skoolhoofde, onderwysers en ouers gelukgewens met die prestasies van 2020 se matrikulante.

“Hoewel baie aandag gevestig is op die ontwrigting van die Covid-19-pandemie, weerspieël die uitslae dat ons onderwysers op die agtergrond hard gewerk het om toe te sien dat ons leerlinge hul beste resultate kan lewer.”

Brian Schreuder hoof van die Wes-Kaapse departement van onderwys. Foto: Lerato Maduna

Schreuder sê die daling van 2,4 persentasiepunte in die slaagsyfer tot 79,9% en die hoogste persentasie universiteitsvrystelling nog op 43,8%, dui daarop dat die standaard van onderrig in talle skole nie gedaal het nie.

“Inteendeel het 213 skole se uitslae eerder ’n verbetering getoon.”

Volgens Schreuder moet ook erkenning gegee word aan die onderwysers wat hul onderrigstyl moes “heruitvind” in die staat van inperking.

Verder verbeter die provinsie se behoud van gr. 10-leerlinge tot matriek steeds elke jaar, luidens sy verklaring.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap. Foto: Malherbe Nienaber

Alan Winde, premier, het ook in ’n boodskap aan 2020 se matrieks gesê hy is met trots gevul. Die provinsie se leerlinge het in ’n “ongekende jaar” ’n besondere prestasie behaal.

“Ek is die meeste trots dat die Wes-Kaap die hoogste behoud (66%) het van 2018 se gr. 10-leerlinge wat in 2020 hul matriekjaar voltooi het. Tesame met die universiteitsvrystellings, beteken dit meer jong mense in ons provinsie sal toegang tot meer geleenthede in die toekoms hê.”

Winde het ’n beroep gedoen op leerlinge wat hul uitslae gaan vier om verantwoordelik te wees en skares en nabye kontak te vermy, sowel as beknopte ruimtes met swak ventilasie om die verspreiding van die koronavirus te beperk.

Meer oor:  Elsiesrivier  |  Matriek 2020  |  Slaagsyfer  |  Matriekeksamen  |  Matrieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.