Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Top-Gautenger verras oor haar 1ste plek

Sy was uit die veld geslaan toe sy hoor sy is die beste matriekleerling in Gauteng vir 2018.

Tinotenda Mudzingwa (17) is Vrydagoggend in Pretoria op ’n geleentheid van die Gautengse onderwysdepartement aangewys as die toppresteerder in Gauteng. Haar gemiddeld is 96,6%.

“Ek is regtig opgewonde en verras. Ek het dit glad nie verwag nie,” sê dié oudleerling van die Greenside High School in Johannesburg.

Tinotenda Mudzingwa
Tinotenda Mudzingwa is Vrydag aangewys as die toppresteerder in Gauteng. Links is Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, en Angie Motshekga, minister van basiese onderwys.

Sy sê dat daar nie werklik ’n resep tot sukses is nie.

“Die onderwysers by ons skool het my regtig baie gehelp. Natuurlik was my ma, Egines, die absolute beste ondersteuningstelsel.”

Sy gaan vanjaar aktuariële wetenskap aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) studeer.

“Dis ’n kursus wat wiskunde, wetenskap en rekenaars bymekaarbring. Dis basies alles waarvoor ek lief is.”

Haar raad aan die matrieks van 2019 is om tyd vir hulself ook te maak en om nie uit te brand nie, hoewel dié jaar baie belangrik is.

Tinotenda het uitgeblink in Engels huistaal (96,7%), Afrikaans tweede addisionele taal (95%), fisiese wetenskap (98,7%), lewenswetenskap (97,3%), inligtingstegnologie (97,3%), wiskunde (96%) en lewensoriëntering (95,3%).

Gauteng is vanjaar aangewys as die provinsie wat die beste in die eindeksamen gevaar het met ’n slaagsyfer van 87,9%, ’n verbetering op die 85,15% in 2017.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in die provinsie, het op die geleentheid township-skole geprys vir hul prestasies.

“Uit die 25 000 onderskeidings wat ons in Gauteng gekry het, kom 11 000 uit townshipskole.”

Hy het hom ook uitgelaat oor kritici wat die matrieks se prestasie afmaak weens die 30%-slaagvereiste.

“Uit die sowat 84 000 leerlinge wat matriek in Gauteng geslaag het, het net nege leerlinge met 30% geslaag. Die gehalte van die slaagsyfer gaan nie oor die 30% nie, dit gaan meer oor diegene wat geslaag het met toelating tot graadstudies,” sê Lesufi.

Altesaam 70% van die leerlinge wat van gr. 11 tot 12 bevorder is nadat hulle in 2017 gr. 11 gedruip het, het matriek geslaag. Sowat 10% van dié leerlinge het met toelating tot graadstudies geslaag en 241 het onderskeidings behaal.

Volgens Lesufi het al die streke in Gauteng ’n slaagsyfer van bo 85%, en uit die top-20-streke in Suid-Afrika kom 15 uit Gauteng.

Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, het op die geleentheid sy kommer uitgespreek oor die groot getal leerlinge wat voor hul matriekjaar uit die onderwysstelsel val.

“Meer as ’n miljoen leerlinge het 12 jaar gelede met skool begin, maar net die helfte van hulle het gematrikuleer. Ons moet iets daaraan doen.”

Die drie beste skole in Gauteng is almal in Pretoria. Die Hoërskool Waterkloof is deur die departement aangewys as die algehele beste skool in die provinsie, gevolg deur die Hoërskool Garsfontein en die Afrikaanse Hoër Meisieskool.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, sê die topskole word aangewys gegrond op die getal onderskeidings wat hul leerlinge verwerf, hoeveel leerlinge met toelating tot graadstudies slaag en hoeveel leerlinge ’n gemiddeld bo 90% behaal.

Die Hoërskool Garsfontein is ook die skool met die meeste leerlinge wat toegang tot graadstudies gekry het.

Johné Hattingh van die Hoërskool Waterkloof is aangewys as die tweede beste matrikulant in Gauteng, gevolg deur Yusra Kalla van die Lenasia Muslim School in die derde plek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.