Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Umalusi kry regmerkie by kenners
Dr. Michael le Cordeur
Chris Klopper
Dr. Jaco Deacon
Prof. Elda de Waal
Dr. Theuns Eloff
Hugo Vermeulen

’n Matrieksertifikaat bly ’n geloofwaardige maatstaf van prestasie en ’n noodsaaklike hulpmiddel om deure na ’n loopbaan en toekoms oop te maak.

Dit is die mening van verskeie kenners te midde van vrae oor onder meer die stygende neiging in die slaagsyfer. Die nasionale matriekslaagsyfer vir die 2018-groep is 78,2%. Dis 3,1 persentasiepunte hoër as 2017 se 75,1%.

Dr. Michael le Cordeur, hoof van die departement kurrikulumstudie aan die Universiteit Stellenbosch, sê daar kán peil getrek word op die gehalte van die 2018-uitslae omdat die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding (Umalusi) tevrede is met die standaard van die vraestelle en nasienproses.

“Die raad is onafhanklik en ’n goeie waghond”.

Chris Klopper, bestuurshoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê die slaagsyfer is “beslis ’n aanduiding van die gehalte van onderwys wat die openbare onderwysstelsel in staat is om te lewer”.

“Dis die eerste keer in vyf jaar dat geen vraestelle uitgelek het nie. Daar was ook geen berigte van sistemiese onreëlmatighede wat die algehele geloofwaardigheid en integriteit van die eksamen kon benadeel nie. Dis ’n groot prestasie in ’n stelsel met 12 miljoen kinders en 25 000 skole. Die verhoogde slaagsyfer wys ook onderrig in laerskole verbeter, want dis waar die grondslag gevestig word.”

Dr. Jaco Deacon, uitvoerende adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), en prof. Elda de Waal, ’n waarnemende navorsingsdirekteur by die Noordwes-Universiteit (NWU) se fakulteit opvoedkunde, is dit eens: ’n Matrieksertifikaat is jou paspoort tot naskoolse onderrig of ’n werk.

“Die meeste werkgewers vereis gr. 12,” sê Deacon. “Dit gee jou ook toegang tot hulpbronne soos beurse en vinniger vordering in die werkplek.”

Le Cordeur en De Waal meen die 78%-slaagsyfer behoort nie aan te hou styg nie omdat dit vrae oor standaarde sal skep. “Die syfer is nou naby aan ’n vlak waar dit moet begin stilstaan. Nie almal kan slaag in ’n land soos Suid-Afrika met al sy uitdagings nie. Armoede het nog ’n groot invloed op matriekprestasie,” sê Le Cordeur.

Punte aangepas

Altesaam 39 van die 67 matriekvakke se uitslae is sonder aanpassings aanvaar, 17 is opwaarts aangepas en 11 afwaarts. Klopper sê besonderhede oor watter vakke in watter mate en om watter redes aangepas is, sal later vandeesmaand bekend gemaak word.

Le Cordeur sê dis ’n goeie teken dat meer as die helfte van die vakprestasies nié aangepas is nie. “Aanpassings is aanvaarde onderwyspraktyk.”

Volgens Deacon pas Umalusi internasionale maatstawwe vir aanpassings toe en is dit ’n deursigtige proses. “Inligting oor alle kwelpunte rondom die eksamen is beskikbaar.”

Vereistes vir universiteitstoelating

Ander kwelpunte met die uitslae sluit onder meer in die verslapping in kriteria vir toelating tot voorgraadse universiteitstudies. Die vereiste is nou ten minste 40% vir ’n huistaal, 40% in enige ander vak en 50% in vier ander vakke. In die 2018-groep het 33,6% van die matrikulante toelating tot voorgraadse studies, teenoor 2017 se 28,7%. 2018 se getal is die hoogste sedert 1994.

Dr. Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die NWU en nou uitvoerende direkteur van die F.W. de Klerk-stigting, meen dié styging is eintlik betekenisloos omdat goeie universiteite steeds hoër kriteria vir toelating toepas. “Hulle kyk nie eens na 40%-kandidate nie, die standaard vir keuring begin gewoonlik by 60% en kan tot 75% wees. Die toelating het dus geen impak op diegene wat net-net aan die minimum vereistes voldoen nie.”

Wat is die ware toets vir die onderwysstelsel?

Kenners meen die ware toets vir die sukses van die openbare onderwysstelsel is hoeveel gr. 1’s wat inskryf, eindelik hul matriek voltooi. “Sukses in naskoolse onderrig is ook ’n belangrike maatstaf,” sê Deacon.

Klopper sê ’n geraamde 35% van verstandelik normale leerlinge wat in 2007 vir gr. 1 ingeskryf is, het nie hul skoolloopbane in 2018 voltooi nie.

Hugo Vermeulen, onderwysspesialis verbonde by die Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê dis kommerwekkend dat minder matrieks in 2018 welvaartsvakke soos fisiese wetenskap, wiskunde, besigheidstudies, rekeningkunde en ekonomie geskryf het. “Die land het in die huidige ekonomiese klimaat juis meer boekhouers, ingenieurs, ouditeure, ekonome en entrepreneurs nodig”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.