Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Umalusi tevrede met matriekeksamen

Daar was in hul matriekjaar onder meer beurtkrag en protesoptrede om mee rekening te hou, maar die afgelope matriekeindeksamen het uiteindelik goed afgeloop.

Só het die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding (Umalusi) Vrydagoggend op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê.

Die uitslae word op 8 Januarie bekend gemaak.

Umalusi wou egter nie enige voorspellings waag oor wat die slaagsyfer sal wees nie omdat dit nie sy taak is nie. Sy taak is om te verseker dat die vraestelle en die nasienwerk op peil is.

Hoewel daar gevalle van oneerlikheid tydens die eindeksamen was, het dit volgens Umalusi nie wyd voorgekom nie. Daarom is die integriteit van die matriekeksamen nie onder verdenking geplaas nie.

Dr. Mafu Rakometsi (regs), uitvoerende hoof van Umalusi, en prof. John Volmink, voorsitter, Vrydag op ’n mediakonferensie in Pretoria.Foto: Sarel van der Walt

Die getal leerlinge wat oneerlik was, het boonop afgeneem.

Vir die eerste keer in baie jare het geen vraestelle voor die eksamen uitgelek nie.

“Dit is waarop ons as Suid-Afrikaners trots moet wees, want dit is hoe dit móét wees,” het dr. Mafu Rakometsi, uitvoerende hoof van Umalusi, gesê.

Hy het Suid-Afrikaners bedank dat hulle nie die eksamen met protesoptrede ontwrig het nie.

Die vyf assesseringsowerhede in die land sluit die Onafhanklike Eksamenraad en die departement van basiese onderwys in.

Umalusi sê hy is tevrede dat die vraestelle wat die onderskeie assesseringsowerhede aan hom voorgelê het, aan die maatstawwe voldoen het.

“Die gehalte van die vraestelle is ’n baie belangrike aspek wat die gehalte en geloofwaardigheid van ’n eksamen bepaal.

“Dit is daarom verblydend om te sien daar was ’n duidelike verbetering in die algehele standaard van eksamenvraestelle.

“Meer vraestelle is hierdie keer reeds ná die eerste of tweede voorleggings aan eksterne eksaminators goedgekeur,” het prof. John Volmink, voorsitter van Umalusi, gesê.

Dit is ook duidelik dat die assesseringsowerhede daadwerklike ingrypings gedoen en verbeterde strategieë in werking gestel het.

Wiskunde bly egter ’n doring in die vlees vir matrikulante.

Volmink sê baie sal gedoen moet word aan die wyse hoe dié vak in die toekoms aangebied word.

“Meer aandag sal in die toekoms gegee moet word aan probleemoplossings. ’n Mens kry ook die idee in sommige provinsies was die fokus te veel op vorige jare se vraestelle,” sê Volmink, wat ’n doktorsgraad in wiskunde-opvoeding het.

Hy sê met die oog op die sogenaamde vierde nywerheidsrevolusie is dit kommerwekkend dat al hoe minder kinders deesdae wiskunde as vak neem.

In die ander sogenaamde sleutelvakke (soos fisiese wetenskap en rekeningkunde) was daar nie ’n verbetering of ’n verswakking nie, en iets sal hieraan gedoen moet word.

Volgens Volmink is die uitslae van 70% van die vakke onveranderd gelaat.

Altesame 13 vakke (20%) se punte is opwaarts aangepas en dié van sewe vakke (10%) is afwaarts aangepas.

Wiskunde, geografie, geskiedenis, rekeningkunde en fisiese wetenskap tel onder die vakke waarvan die punte nie aangepas is nie.

Die goeie nuus is dat daar ’n jaar nadat daar groot kommer oor die gehalte van geografie was ’n aansienlike verbetering was.

Volmink sê dit het uit die geskiedenisvraestelle duidelik geword die leerlinge het gesukkel om krities te dink.

Umalusi het aan al die assesseringsowerhede probleme uitgewys. Hulle moet voor 14 Februarie planne aan hom voorlê hoe hulle die probleme in die toekoms sal pak en uitstryk.

* Die matriekuitslae sal op 8 Januarie in Volksblad en Beeld verskyn. Die uitslae van leerlinge in die Wes-Kaap sal op 9 Januarie in Die Burger gepubliseer word. Die matriekuitslae sal ook van 8 Januarie af op Netwerk24 verskyn.

Meer oor:  Umalusi  |  Matriekeindeksamen  |  Matrieks 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.