Verskeie faktore het tot die swak slaagsyfer in die Noord-Kaap bygedra – onder meer dat ’n kwart van dié provinsie se onderwysers aan onderliggende siektetoestande ly en vanaf die huis moes werk.
Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, sê hy was woedend en teleurgesteld toe hy hoor die provinsie se slaagsyfer het met 10,5% gedaal.
“Sonder om enige verskonings aan te bied, is dit belangrik dat ons die swak slaagsyfer uitklaar. Die Noord-Kaap het ’n slaagsyfer van 66% wat bevorderde leerlinge insluit. Die slaagsyfer, met die bevorderde leerlinge uitgesluit, is 76,1%.”

Drie meisies is vanjaar by die Protea Hotel in Kimberley as die drie topleerlinge in die Noord-Kaap aangewys. Gabbi Shae Christians van Kimberley Girls High is die beste leerling in die Noord-Kaap, Shirene Wiese van die Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas het die tweede plek geneem en Hannah Lawani van Kimberley Girls High het die derde plek verower. Foto: Anena Burger
Saul het Dinsdag op ’n geleentheid waar die toptien leerlinge in die provinsie aangekondig is gesê verskeie faktore het tot die swak slaagsyfer bygedra.
Onder meer dat die Noord-Kaap die provinsie was wat die hoogste persentasie van onderwysers aangeteken het wat vanweë hul ouderdom en onderliggende siektetoestande tydens die pandemie van die huis af moes werk.
Daar het 2 758 onderwysers aansoek gedoen om van die huis af te werk.
Slegs 353 aansoeke is goedgekeur en was hoofsaaklik gr.12-onderwysers wat verskeie vakke aangebied het.
“Ons onderskat nie die invloed wat dit op ons leerlinge gehad het en die onstabiliteit wat die skole veroorsaak het nie.”
2 265 bevorderde leerlinge het die eindeksamen voltooi waarvan slegs 554 (’n persentasie van 24,5%) geslaag het. Dit het ’n direkte invloed op die slaagsyfer-persentasie gehad.
Saul sê dit is ook kommerwekkend dat uit die 12 021 matrikulante meer as 2 700 leerlinge nie na die inperking teruggekeer het skool toe nie.
“Die leerlinge het wel ingeskryf vir die eksamen en seker op geluk staatgemaak dat hulle sou slaag.”
Uit die 11 608 kandidate wat die eksamen afgelê het, het slegs 7665 geslaag.
Ten spyte van die daling in die slaagsyfer het die getal onderskeidings in die Noord-Kaap met 268 toegeneem.
Kandidate wat op Baccalaureusvlak geslaag het, het met 527 gestyg.
Slegs vier skole in die provinsie het ’n 100% slaagsyfer behaal.
Die skole is die Hoërskool Hopetown, die Hoërskool Warrenton, die Ixunkhweza Gekombineerde-skool en die Hoërskool Lesedi.
Die tien beste leerlinge in die provinsie is tydens die geleentheid aangekondig. Hulle is:
- Gabbi Shae Christians van Kimberley Girls High in die eerste plek.
- Shirene Wiese van die Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas in die tweede plek.
- Hannah Lawani van Kimberley Girls High in die derde plek.
- Raeesah Fredericks van Kimberley Girls High in die vierde plek.
- Brendan Greyling van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley in die vyfde plek.
- Phillippus Kotze van die Hoërskool Postmasburg in die sesde plek.
- Alista Da Silva van die Hoërskool Diamantveld in die sewende plek.
- Ruan Le Roux van die Hoërskool Upington in die agtste plek.
- Atiyyah Toffar van Kimberley Girls High in die negende plek.
- Ethan Demas van die Hoërskool Noord-Kaap in die tiende plek.