Sy het goeie rede gehad om uit te sien na wanneer die 2020-matriekuitslae bekend gemaak word, want in plaas van die vyf onderskeidings waarop Nicolene van Tonder gehoop het, het sy agt behaal.
Dié oudleerling van die Hoërskool Fichardtpark in die Rosestad sê die senuwees het omtrent geknaag.
Hoewel sy vir onderskeidings in Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, biologie en toerisme gehoop het, het sy ook ’n onderskeiding in wiskunde, rekeningkunde en fisiese wetenskap behaal.

Nicolene van Tonder, ’n oudleerling van die Hoërskool Fichardtpark, het op vyf onderskeidings gehoop, maar agt behaal.
Nicolene gaan vanjaar fisiologie en biochemie aan die Universiteit van die Vrystaat studeer.
Haar raad aan matriekleerlinge is om altyd hul bes te doen omdat harde werk beloon word.
“Probeer om altyd positief te bly en nie dinge tot op die nippertjie te los nie.”
Sy is die dogter van Johan en Jeanine van Tonder van Bloemfontein.
Sy het ’n ouer broer, Tiaan Kampfraath-Pawson, wat in George skoolhou.