Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Top-presteerders
Hulde aan pa deur visuele kuns

Liané Welgemoed het verlede jaar op die nippertjie haar finale projek vir visuele kuns heeltemal verander – om ’n hartseer rede.

Op 6 September 2020, ’n week voordat haar rekordeksamen begin het, het ’n motorfietsongeluk haar pa, Riaan, se lewe geëis.

“My ma het vir my gekyk met trane in haar oë en net gesê: Dis Pappa. Ek het dadelik geweet. Dit het gevoel of die besef my tussen my oë tref.”

Liané Welgemoed in haar matriekafskeidrok by ’n foto van haar pa, Riaan, wat ’n week voor haar rekordeksamen oorlede is.

Skielik bestaan die gesin toe net uit drie vroue wat in rou gedompel is.

Vier dae ná sy afsterwe het Liané, wat verlede jaar aan die Hoërskool Secunda gematrikuleer het, haar rybewys gekry.

Sy het haar pa se baadjie aangehad met sy hangertjie om haar nek.

Sy sê sy het geweet sy moet op daardie dag haar rybewys kry; haar pa sou haar nie “opgepiep” het nie en sy moet haar gestremde ma, Lody, kan bystaan. “Ek het geweet as my ma die dag nie kan nie, sal ek my sussie moet rondry.”

Lody het spierdistrofie en Liané se sussie, Ineke, is vanjaar in gr. 9.

“Ten spyte van die massas op haar skinkbord, is sy nog my rots ook. Ek is haar gestremde ma en nou is meer as net my lyf gebreek . . . my hart is ook in stukke. Maar sy is elke tree daar vir my en haar kleinsus,” sê Lody oor haar kind.

Liané Welgemoed se kunsprojek “#LegendChronicles” is opgedra aan haar pa, wat in haar matriek­jaar gesterf het.

Die dag ná Riaan se gedenkdiens het Liané haar eerste rekordeksamenvraestel geskryf: Afrikaans se vraestel een. Hiervoor het sy ’n onderskeiding gekry – 93%, om presies te wees.

Toe besluit Liané om die konsep vir haar finale projek vir visuele kuns heeltemal te verander. Sy het bladsye met maande se beplanning uitgeskeur en opnuut begin.

Sy sou haar visuelekunsprojek aan haar pa se nalatenskap opdra met die tema “#LegendChronicles”.

Sy sê haar pa het in vyf lande gewerk en talle toekennings by Sasol gekry. “Hy was so nederig en hy het so baie mense se lewe geraak. Hy was nie net ’n held vir my nie, hy was ’n held vir almal wat met hom te doen gekry het. Hy was legendaries en verdien die tribute.”

Liané is 100% tevrede met die eindresultaat en dit het vir haar ’n onderskeiding in visuele kuns besorg.

Haar ander onderskeidings is in Afrikaans eerste addisionele taal en lewensoriëntering.

Sy studeer vanjaar BSc op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.

Meer oor:  Secunda  |  Matriekuitslae  |  Matriekeksamen  |  Toppresteerder  |  Matrieks2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.