Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Top-presteerders
KYK: Dux-leerling hoor maand ná pa sterf hy het 7 onderskeidings


’n Maand voordat die Hoërskool Oos-Moot se dux-leerling vir 2020 sy matriekuitslae gekry het, is sy pa aan Covid-19 dood.

Heinrich le Roux (18) sê sy pa, Hein (53), het einde Desember simptome van die virussiekte begin toon. Hy is vroeg in Januarie in die hospitaal opgeneem en is op 22 Januarie dood.

“Dit was een van die moeilikste tye in my lewe, maar ek is bly dat ek hom vandag (Dinsdag) kon trots maak,” sê Heinrich.

Heinrich le Roux se pa is dood ’n maand voordat hy Dinsdag sy matriekuitslae ontvang het. Foto: Deaan Vivier

“My pa was trots op sy kinders. Elke keer as ek presteer het, of dit nou in atletiek, redenaars of akademie was, het hy vir my gesê hoe trots hy op my is. Hy het my ook nooit onder druk geplaas om te presteer nie; hy het my skoolloopbaan in my eie hande gelos en my nooit gedwing om te gaan leer vir ’n toets of eksamen nie. Hy was net ondersteunend.”

Heinrich sê hoewel sy pa se dood nie ’n invloed op sy uitslae gehad het nie, is die beste wat ’n mens in so ’n moeilike situasie kan doen om saam met jou familie te wees. En dit is presies wat hy gedoen het om sy pa se skielike afsterwe te verwerk.

Heinrich le Roux, die Hoërskool Oos-Moot se dux-leerling vir 2020, spog met sewe onderskeidings in die eindeksamen. Foto: Deaan Vivier

Heinrich het sewe onderskeidings in die nasionale seniorsertifikaat-eksamen gekry en spog met ’n gemiddelde van 90,4%. Hy het onderskeidings in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, ingenieursgrafika en -ontwerp, fisiese wetenskap, inligtingstegnologie en lewensoriëntering.

“Ek is baie tevrede met die uitslae, maar dit het nie net vanself gekom nie – dit verg harde werk.

“My resep was om saam met vriende te werk, want as jy nie iets verstaan nie dan gaan jy dit nie self regkry nie. Dit is waar vriende handig inkom, veral in hierdie moeilike jaar waarin ons weens die inperking nie elke dag skool toe kon gaan nie.”

Heinrich gaan vanjaar rekenaaringenieurswese aan die Universiteit van Pretoria studeer en hoop om ’n beurs te kry.

“Die finansies is ook maar moeilik, noudat my pa ons nie meer finansieel kan ondersteun nie. Maar ek wil graag voortbou op my punte en ’n graad probeer kry.”

Heinrich le Roux is tevrede met sy matriekuitslae. Foto: Deaan Vivier
Meer oor:  Pretoria  |  Pa  |  Onderskeidings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.