Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Top-presteerders
Matriekmeisie dood voor sy hoor sy is in top-10
Shenisha Saayman (17) is Maandag aan tuberkulose dood.

’n Matrikulant van Melkhoutfontein in Stilbaai is aan tuberkulose (TB) dood ’n dag voordat sy Dinsdag sou hoor sy is onder die tien toppresteerders in haar skool.

“Toe sy drie jaar oud was, het sy ekseem gehad, maar daarna was sy nooit regtig siek nie,” sê Patricia Saayman (55) oor haar dogter, Shenisha (17), wat Maandag dood is.

Shenisha was ’n matrikulant aan die Gerrit du Plessis Sekondêre Skool in Riversdal.

Patricia sê voordat dit in Desember by haar gediagnoseer is, het Shenisha erge hoofpyne gekry.

Shenisha Saayman (17) het gehou van leer en wou ’n onderwyseres word.

“Sy het gehou van leer en ons het gedink dit is omdat sy so hard werk dat sy die hoofpyne kry.”

Patricia het vir haar pille gegee vir die hoofpyn, maar dit het nie gehelp nie.

“Sy het een aand bloed gehoes en toe stel haar oudste suster (Ingrid Saayman) voor dat ons haar hospitaal toe moet neem, want dit kan dalk TB wees,” sê Patricia.

Patricia se middelste dogter, Jasmine Saayman, haar man en pa ook TB gehad, maar het gesond geword.

Shenisha is na die kliniek in Riversdal geneem waar TB toe wel by haar gediagnoseer is. Sy het dadelik met behandeling begin, maar dit het nie so goed gewerk nie en haar liggaam het negatief daarop gereageer.

“Die pille het vir ’n tydjie gewerk, maar toe word sy maer en wou net lê. Ek was moedeloos en nie seker wat om te doen nie,” sê Patricia.

Patricia Saayman sê sy en haar dogter Shenisha was soos susters en het alles saam gedoen.

Sy is op 13 Februarie per ambulans na die Riversdal-kliniek geneem en van daar na ’n hospitaal in George oorgeplaas.

“Laasweek Dinsdag toe ek haar besoek, was sy in ’n koma,” sê Patricia.

“Sy het net daar gelê. Ek het by die Here gepleit en gesê dat dinge nou in Sy hande is. Ek is nie gewoond daaraan om my kind so te sien nie. Ek ken haar nie so nie. Dit was moeilik om haar so te sien.”

Dit was die laaste keer dat sy haar jongste dogter lewend gesien het.

Die hospitaal het gebel en gesê hulle wil Shenisha na Riversdal oorplaas sodat haar familie van haar kan afskeid neem en die familie ingelig sy is breindood.

“My hart het gesak. Ek het toe geweet my kind gaan dit nie maak nie,” sê Patricia.

Jasmine Saayman, die middelste suster, Melony Pedro, hul tante, en Ingrid Saayman, die oudste suster, by Shenisha se gedenkdiens Dinsdag by die skool waar hulle haar matriekuitslae gaan haal het.

Daardie middag, voordat hulle Shenisha kon oorplaas, het die hospitaal weer gebel en die familie ingelig dat sy oorlede is.

“Dit is ’n erge ding vir ’n ma om ’n kind te moet verloor. Ek het nie eens kans gehad om tot siens te sê nie,” sê ’n gebroke Patricia.

Melony Pedro (34), Shenisha se tante, het haar matriekuitslae Dinsdag saam met haar twee susters by die skool gaan haal.

“My bene sou ingegee het. Ek het nie die krag gehad om almal by die skool in die oë te kyk nie,” sê Patricia.

Pedro sê die skool het ’n gedenkdiens vir Shenisha gehou.“Sy is in die toptien. Dit is verskriklik hartseer en amper almal was in trane,” sê Pedro.

Dit is ’n erge ding vir ’n ma om ’n kind te moet verloor. Ek het nie eens kans gehad om tot siens te sê nie.

Sy sê dit was ’n groot eer dat sy die punte kon gaan haal.

Jasmine sê die diens by die skool was baie mooi.

“My suster het so baie drome gehad. Dit is hartseer om haar te verloor terwyl sy nog so jonk was,” sê Jasmine.

Patricia sê toe die maan Woensdag so helder by haar kamervenster inskyn, toe dink sy aan Shenisha.

“My kind is nou in die hemel. Ek weet nie hoe die lewe sonder haar gaan wees nie, maar sy moet weet ons sal nooit ophou lief wees vir haar nie.”

Shenisha word Saterdag begrawe.

Meer oor:  Riversdal  |  Sterf  |  Matriek2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.