Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Top-presteerders
Minstens 3 van Vrystaat spog met 9 A’s

Toe Christi Dempers klein was, het ’n meisie wat tien A’s behaal het, gepronk op die boks van haar ontbytpap – waar mense verskyn het wat cool dinge gedoen het. Toe reeds het sy vir haar ma gesê, sy wil dít doen – tien A’s behaal.

So sê die 18-jarige Christi, oudleerling van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein wat een van die slimste Vrystaatse matriekklasse van 2020 opgelewer het. Met ’n slaagsyfer van 85,1% is die provinsie ook weer as die beste in die land aangewys.

Volgens die amptelike uitslae het Christi met haar nege onderskeidings die meeste in die provinsie.

Christi Dempers, oudleerling van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, is een van die Vrystaat se slimkoppe. Foto: Mlungisi Louw
Christi Dempers (18) is met haar nege onderskeidings een van die Vrystaat se leerlinge met die meeste onderskeidings. Foto: Mlungisi Louw
Christi Dempers op die rusbank en haar broer, Jan-Braam, wat wys hoe trots hy op sy suster is. Die matriekuitslae is Dinsdag op Jan-Braam se 17de verjaardag bekend gemaak. Foto: Mlungisi Louw
Christi Dempers besig om te hekel met Jan-Braam (17), haar broer, agter haar. Foto: Mlungisi Louw
Christi Dempers het tydens die inperking uit verveeldheid begin hekel. Foto: Mlungisi Louw

Leerlinge soos Marc van der Nest (St. Andrew’s School in Bloemfontein) en Louwrens Vorster (Hoërskool Jim Fouché) het ’n negende onderskeiding behaal met ’n vak wat hulle onafhanklik van die matriekeindeksamen afgelê het.

Die Vrystaat spog ook met 19 matrieks met agt A’s elk en die Noord-Kaap het vier leerlinge wat agt onderskeidings elk behaal het.

Christi sê sy was destyds baie lus om tien vakke te neem, maar het toe op advies van haar ma, Adéle, oudboekeredakteur van Volksblad, asook jare lange hoofsub van die Volksblad se gemeenskapskoerante en tans ’n onderwyser by Oranje, briek aangedraai.

“Jy kan nie nege vakke vat en nie nege A’s kry nie,” het Christi gedink.

En nou het sy ’n onderskeiding in al haar vakke behaal en die nuus is Dinsdag op die 17de verjaardag van haar broer, Jan-Braam, ’n gr.11-leerling aan Grey-kollege, bekend gemaak.

Christi is een van nege Oranje-leerlinge wat nege of agt onderskeidings behaal het.

“Daar gaan so baie ure in en ek dink op die ou einde is die onderskeidings dit wat wys dat jy gewerk het.”

Hoewel sy op nege onderskeidings gehoop het, was sy bekommerd dat ekonomie, dalk fisiese wetenskap, haar tot op agt sal bring, waarmee sy wel tevrede sou wees.

Nou het sy onderskeidings in dié twee vakke, sowel as Afrikaans (huistaal), Engels (eerste addisionele taal), Duits (tweede addisionele taal), wiskunde, lewensoriëntering, lewenswetenskap en rekeningkunde behaal.

Harde werk vanaf die eerste dag – dit was die resep vir haar akademiese prestasie.

Sy het egter in ’n ongewone jaar te midde van die koronaviruspandemie presteer.

“Ek dink dit het ons, veral die mense wat goed gevaar het, (akademie) positief beïnvloed. As jy ingesit het en jy het gewerk soos wat jy weet jy doen, dink ek nie dit (die pandemie) sou ’n negatiewe invloed gehad het nie.”

Christi sê daar was baie tyd om aandag aan skoolwerk te gee, maar daar was ook moeilike aspekte van afstandleer.

Die beskikbaarheid van onderwysers het hulle as leerlinge geweldig gehelp. Die onderwysers het alles ingesit, sê sy.

Christi het nie net voor die boeke gesit nie, maar ook onder meer in die koor gesing en viool in die orkes gespeel. Sy bespeel ook die marimba en is gek oor lees.

Sy het tydens die inperking uit verveeldheid begin hekel en het al ’n kombersie, en binnekort ’n truitjie, geskep.

Sy gaan vanjaar BCom (Rek) aan die Universiteit van Pretoria studeer, waar haar ouer suster, ook ’n oudleerling van Oranje, Jana (20), tans inligtingstegnologie studeer.

Ironies dat sy as laerskoolleerling gewonder het wie heeldag in ’n gebou wil wees, waar dit net oor ekonomiese bestuurswetenskappe gaan.

Sy bedank die skool, haar ma, Adéle, en pa, Johan, haar ouma, Elsa Greyling, wat elke dag vir haar bid, en die Hemelse Vader.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.