Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Top-presteerders
Noordwes se topmatriek kry 99% vir fisiese wetenskap

Jana Geyser se skoolmaats het soms gesug “nie al weer nie” wanneer sy die soveelste vraag in die klas vra, maar haar vasberadenheid om haar skoolwerk te verstaan, is ryklik beloon toe sy as Noordwes se topmatriek aangewys is.

Jana, die jongste van vier kinders, is ook as die derde beste leerling landwyd in kwintiel 4-skole aangewys.

Sy het met die bekendmaking van die provinsiale uitslae Dinsdag in Potchefstroom gesê haar suksesresep was om deurgaans hard te werk, altyd haar huiswerk te doen en te vra wanneer sy oor iets wonder.

“Ek kon dit alles doen danksy die Here se hulp,” sê Jana, ’n oudleerling van die Hoërskool Rustenburg. “Ek is baie bly. Ek het nie verwag om die provinsie se toppresteerder te wees nie.”

Jana Geyser, Noordwes se toppresteerder, Dinsdag in Potchefstroom. Foto: Susan Cilliers

Jana het agt onderskeidings behaal en ’n gemiddeld van meer as 90% in al haar vakke. Haar gemiddeld in die rekordeksamen was 95%.

Haar gunstelingvak was fisiese wetenskap. Sy is ook die provinsie se toppresteerder in dié vak, waarvoor sy 99% gekry het.

Van al die matrieks in Noordwes het Jana boonop die beste in lewenswetenskap presteer, met ’n allemintige 96%. Sy het nóg drie onderskeidings behaal in vakke wat sy by die Onafhanklike Eksamenraad afgelê het – in Alpha-wiskunde (97%), gevorderde programwiskunde (94%) en addisionele wiskunde (93%). Jana het dus altesame 11 onderskeidings behaal.

Suzanne Strydom, nog ’n leerling van die Hoërskool Rustenburg, het ook 11 onderskeidings behaal in haar gewone skoolvakke en vakke wat sy by die raad afgelê het.

Jana volg in haar pa, Pieta, ’n dokter, se spore wanneer sy vanjaar haar mediese studies aan die Universiteit Stellenbosch aanpak. Haar ma, Elmien, is ’n gekwalifiseerde oogkundige, maar praktiseer nie tans nie.

Lerato Tuba is die meisie in Noordwes met die beste gekombineerde punt in wiskunde en fisiese wetenskap. Foto: Susan Cilliers

Hennie Pieterse, hoof van die Hoërskool Rustenburg, sê die skool is baie trots op sy leerlinge se prestasies.

“Hulle het saam 420 onderskeidings behaal en 226 van hulle kwalifiseer vir graadstudies (dis die grootste getal graadtoelatings onder alle skole in die provinsie). Ons het bekwame onderwysers en het hard gewerk om die invloed van die Covid-19-pandemie te bestuur. Toe die matrieks middel verlede jaar weer kon terugkeer skool toe, het ons hul skoolure van 14:00 tot 16:00 verleng.”

Lerato Tuba, oudleerling van die Tsogo Secondary School in Mmakau naby die grens van Noordwes met Gauteng, is die meisie in die provinsie met die beste gekombineerde punt vir wiskunde en fisiese wetenskap. Dié slimkop begin ook vanjaar met haar studies aan die Universiteit van Pretoria om ’n dokter te word.

Herman Alberts en sy ouers, Malinda en Herman sr. Foto: Susan Cilliers

Noordwes se onderwysdepartement het vanjaar weer ’n leerling in die provinsie beloon wat ondanks groot uitdagings presteer het. Dié prys gaan vanjaar aan Herman Alberts, oudleerling en hoofseun van die Meerhofskool in Brits vir kinders met gestremdhede. Herman is erg aandag-afleibaar. Hy het nogtans met ’n onderskeiding in toerisme én toegang tot graadstudies geslaag. Herman werk reeds op ’n tamatieplaas naby Tzaneen in Limpopo terwyl hy as ’n dieselwerktuigkundige opgelei word.

Sy ouers, Herman sr. en Malinda, is baie trots op hul enigste kind. Malinda sê haar seun het baie hard gewerk om so goed te presteer. Herman sr. sê sy seun is heeltemal versot op motorenjins en herstel dit al vandat hy vier jaar oud is.

Toppresteerders in verskillende kategorieë in Noordwes is elk ook beloon met ’n skootrekenaar van die provinsiale departement van onderwys.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.