Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Top-presteerders
Schweizer se slimkop wil ander help beweeg

Die wêreld lê oop voor jong mense soos Farida Cajee wat in alles uitblink en hard werk, maar sy het reeds lankal besluit sy wil haar talente inspan om ander te help.

Die hoekom Farida (20), ’n oud-leerling van die Hoërskool Schweizer-Reneke in Noordwes, besluit het om aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) in Pretoria te gaan studeer om ’n prostetis en ortotis te word.

Farida het eintlik reeds die afgelope jare met haar skitterprestasies in wetenskapkompetisies, begin voorberei vir dié beroep waar kunsledemate en ander ortopediese hulpmiddels vir mense gemaak word.

Farida Cajee met haar robotarm. Foto: Verskaf

Sy is ook die eerste kind van kleur wat as haar skool se dux-leerling aangewys is. “Ek is baie trots hierop,” sê sy.

Sy het matriek geslaag met onderskeidings in Afrikaans Eerste Addisionele Taal en lewensoriëntering.

Haar skeppende talente om bekostigbare kunsledemate te maak wat met gedagtes beheer kan word, het haar al nasionale en internasionale pryse besorg. In Februarie 2020 het Farida se robotarm ’n tweede prys by ’n internasionale wetenskap-uitstalling in Tapei, Taiwan, losgeslaan. Sy het die robotarm uit herwinbare materiaal gemaak.

Farida Cajee werk aan haar robotarm. Foto: Verskaf

Sy en Miné Steenkamp (16) van die Hoërskool Douglas naby Kimberley in die Noord-Kaap, was destyds die enigste twee jong Suid-Afrikaners wat na dié gesogte uitstalling vir jong wetenskaplikes genooi is. Dít nadat Farida en Miné beoordelaars in 2019 by Eskom se Ekspo vir Jong Wetenskaplikes beïndruk het.

Farida het haar bekostigbare robotarm en -hand van afvalplastiek met ’n driedimensionele drukker laat druk. Dit het sowat R9 000 gekos, teenoor die gemiddelde

R140 000 wat ’n standaardprostese van onder die elmboog normaalweg kos.

Die gebruiker plaas ’n EEG-kopstuk op sy of haar kop, wat Farida geprogrammeer het om die gebruiker se konsentrasievlakke meet. “Wanneer die gebruiker konsentreer, stuur die kopstuk ’n sein na die prostese se beheersentrum wat die hand laat oopgaan. Sodra die gebruiker ontspan, keer die hand terug na sy natuurlike posisie,” verduidelik sy.

Die slimkop het in 2018 ’n silwer medalje vir haar robotarm by Eskom se ekspo vir jong wetenskaplikes los gedink. Jong mense vanoor die wêreld neem aan dié kompetisie deel. Farida is die jongste van drie kinders. “Ek was van kleins af lief vir wetenskap en wil die wêreld ’n beter plek maak.”

Wanneer haar kop nie besig is met wetenskap nie, ontspan Farida graag deur te skilder en op ’n kwadfiets te ry. Haar pa, Joe, is ’n motorwerktuigkundige en haar ma, Dolly, ’n huisvrou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.