Wat veronderstel was om die beste jaar van Megan Kuin se lewe te wees, het in ’n nagmerrie-ervaring ontaard.
Sy sê die jaar het goed begin: Sy is immers gekies as die Hoërskool Florida se hoofmeisie vir 2020.
In Februarie het sy egter haar pa, Herman, aan die dood afgestaan. “Dit was baie onverwags. Hy het ’n hartaanval gehad,” sê Megan.

Megan Kuin
Terwyl Megan en haar ma, Dienie, tydens die rouproses staatgemaak het op die ondersteuning van familie en vriende, is die inperking weens die Covid-19-pandemie ingestel.
As enigste kind was Megan en Dienie op mekaar aangewese, vasgekeer in hul huis om saam-saam die hartseer en verlies te verwerk.
“Heeltemal in isolasie. Ons het net mekaar gehad,” sê Megan.
Sy en haar ma kon slegs deur sosiale media en telefoonoproepe die nodige ondersteuning kry.
Die ervaring het haar waardevolle lesse geleer. Sy het raad vir ander mense wat sukkel om berusting te vind ná ’n geliefde se afsterwe.
“Vat dit een dag op ’n slag. Probeer soveel moontlik op ander mense steun en moenie alles alleen probeer verwerk nie.”
Weens die inperking kon Megan ook nie haar rol as hoofmeisie werklik vervul nie.
“Daar was nie veel wat ek eintlik kon doen nie. Ek het maar net die titel gehad.”
Tog laat sy haar nie deur die terugslae onderkry nie.
Sy is een van die toppresteerders van die Hoërskool Florida met onderskeidings in ál ses haar vakke, Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, lewensoriëntering, rekeningkunde, lewenswetenskap en fisiese wetenskap.
Megan begin vanjaar met haar studie in sielkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand en hoop om later in neuro-sielkunde te spesialiseer.