Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Top-presteerders
Twee in Vrystaat spog met 9 elk

Twee Vrystaatse slimkoppe spog vanjaar met nege onderskeidings elk in die matriekeindeksamen.

Sumé Wille (18) van Eunice High School in Bloemfontein en Inge Delport van die Hoërskool Hennenman is die enigste twee van sowat 29 000 matrieks in die Vrystaat wat nege onderskeidings verwerf het.

Sumé Wille het haar weg na nege onderskeidings oopgedans. Hier is sy saam met, van links, haar suster, Freuhlé, broer, Eduard, pa, Eddie, en ma, Carmia, in hul huis in die Bothaville-distrik. Foto: Mlungisi Louw

Sumé, wat dol is op dans, het onderskeidings in dansstudies, Afrikaans (eerste addisionele taal), Engels (huistaal), wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, dramatiese kunste, fisiese wetenskap en lewenswetenskap behaal.

Inge het onderskeidings in Afrikaans (huistaal), Engels (tweede taal), lewensoriëntering, wiskunde, fisiese wetenskap, lewenswetenskap, rekeningkunde, besigheidstudies en addisionele wiskunde verwerf.

Altesaam sewe matrieks het elk agt onderskeidings verwerf, 48 sewe onderskeidings, 56 leerlinge spog met ses onderskeidings en 99 leerlinge het vyf onderskeidings elk in die provinsie verwerf.

Die Wille-gesin in ligte luim op die vooraand van die bekendmaking van die matriekuitslae, min wetend dat hul jongste, Sumé, nege onderskeidings behaal het. Foto: Mlungisi Louw

Al het Sumé, ’n derdegenerasie-Eunice-leerling, heimlik vir agt onderskeidings gehoop, het sy uiteindelik haar weg na nege A’s oopgedans.

Haar klomp onderskeidings was ook ’n groot verrassing vir haar ouers, Eddie en Carmia, suster, Freuhlé, en broer, Eduard.

Sumé, ’n plaasmeisie van Johannasrus in die Bothaville-distrik, sê sy het gereeld haar roetine aangepas om die studie lekker te maak.

“Ek het nie net in my koshuiskamer studeer nie, maar ook in die waskamer en klavierkamer en sommer deurgaans my passie vir dans uitgeleef. Ek het deurentyd ook pilates beoefen en elke dag gedans, en veral ballet gedoen.”

’n Soentjie vir nege onderskeidings. Sumé Wille is een van twee slimkoppe in die Vrystaat wat nege onderskeidings elk verwerf het. Hier wens haar ma, Carmia, en pa, Eddie, haar geluk terwyl Eduard en Freuhlé hul duime omhoog hou.Foto: Mlungisi Louw

Sy sê hoewel sy sedert haar gr. 8-jaar hard werk, kom die eer haar nie toe nie.

“Alle eer kom God toe. Hy is baie goed vir ons.”

Ook haar ma, Carmia, sê “genade onbeskryflik groot” het haar jongste deurgedra.

’n Opgewonde Sumé gaan vanjaar haar passie vir ballet in Skotland uitleef, waar sy haar laaste balleteksamen ook gaan aflê.

“Ek kan nie langer wag nie. Ek is so opgewonde. Ek droom al van sesjarige ouderdom om te dans, veral om ’n ballerina te wees. En in minder as ’n paar dae begin ek dié droom uitleef.”

Hoewel sy nog nie finaal besluit het wat sy volgende jaar gaan doen nie, meen sy dat dit moontlik iets met syfers sal wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.