Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Top-presteerders
Waterkloof se matrieks het ‘hoog gevlieg’
Vanessa Baloyi en Juané Geldenhuys van die Hoërskool Oos-Moot het saam 12 onderskeidings gekry. Foto: Deaan Vivier

Die matriekklas van 2020 het Dinsdagoggend vir die laaste keer skool toe gegaan om ná ’n lang wag hul matriekuitslae te kry.

Die Hoërskool Waterkloof in Pretoria se matrikulante het ’n slaagsyfer van 100% behaal.

Rize Mulder van die Hoërskool Waterkloof kyk na haar matriekuitslae. Foto: Deaan Vivier

Die 362 Klofies wat die matriekeksamen afgelê het, het saam 1 021 onderskeidings verwerf. ’n Bykomende 25 onderskeidings is vir alfa-wiskunde behaal.

98,06% van die leerlinge slaag met universiteitsvrystelling, terwyl 1,93% vir ’n diploma kan gaan studeer.

“Ons is in die wolke. Ons het te midde van ’n pandemie geskiedenis in ons skool gemaak wat die vakonderskeidings aanbetref,” sê Chris Denysschen, die skoolhoof.

“Die personeel en die kinders het hard gewerk. Ons het gestalte gegee aan attitude determines altitude en ons kinders het hoog gevlieg ongeag die uitdagings.

Marine van der Schyff, Zander Dormehl en Riaan van der Walt van die Hoërskool Waterkloof bestudeer hul matriekuitslae. Foto: Deaan Vivier

“Ons kan vandag (Dinsdag) met trots sê dat ons kon bou in geloof en alle eer aan ons Hemelse Vader wat vir ons krag gegee het. Ons sien met groot verwagting uit na die matriekklas van 2021 om voort te bou op hierdie pragtige uitslae.”

Monét Booysen (18) is baie tevrede met haar vyf onderskeidings en gaan bedryfsielkunde aan die Universiteit van Pretoria (Tuks) studeer.

Kaylib Banks, Matthew Wessels en Markus Havenga van die Hoërskool Waterkloof is dankbaar om uiteindelik hul matriekuitslae te ontvang. Foto: Deaan Vivier

“Verlede jaar met Covid-19 was daar baie uitdagings wat ons teëgekom het, veral met dié dat ons lank nie skool kon bywoon nie. Maar ek dink daar was ook baie ruimte vir geleenthede en ons almal het baie hard gewerk om die uitslae te kry wat ons wou gehad het,” sê sy.

Sashe Everitte (18) voel goed oor sy drie onderskeidings en is van mening dat hy baie meer voorbereid was as normaalweg. Hy gaan bourekeningkunde studeer by Tuks.

Miné van Wyk van die Hoërskool Waterkloof het nege onderskeidings gekry. Foto: Deaan Vivier

Miné van Wyk (18), 2020 se onderhoofmeisie van lewensverryking, beskryf die eindeksamen as “rof” en sê dit was spanningsvol om só lank vir die uitslae te wag.

Sy spog met nege onderskeidings en beplan om medies aan die Universiteit van Witwatersrand te studeer.

Vanessa Baloyi, Nica-May van Zyl, Salome Smit, Heinrich le Roux en Johnathan Tribelhorn van die Hoërskool Oos-Moot is verlig om klaar te wees met skool. Foto: Deaan Vivier

“Dit was ’n moeilike jaar gewees, maar ek dink as jy goeie vriende het wat jou ondersteun en onderwysers wat daar was vir jou, dan sal dit goed gaan.”

Miné het saam met vriende studeer en verduidelik dat dit haar baie met die leerproses gehelp het.

Siverio Aggenbach van die Hoërskool Waterkloof kry sy matriekuitslae. Foto: Deaan Vivier

Die Hoërskool Oos-Moot in Pretoria het ’n slaagsyfer van 99,2% behaal.

Die 251 gr. 12’s wat die eindeksamen geskryf het, het saam 261 onderskeidings gekry.

Siverio Aggenbach van die Hoërskool Waterkloof kry sy matriekuitslae. Foto: Deaan Vivier

Die top-20-presteerders het almal ’n gemiddeld bo 80%. Heinrich le Roux (18), die dux-leerling, slaag met sewe onderskeidings en ’n gemiddeld van 90,4%.

Nico Kotzé, die skoolhoof, sê die sko

Dr. Nico van Niekerk, adjunkhoof van die Hoërskool Linden, gesels met die 2020-matrikulante Thomas Meintjies, Kyle Vorster en Tolkin Venter oor hul uitslae. Foto: Melinda Stuurman

ol het die eindeksamen in geloof aangepak.

“Ek het vir die matrieks gesê dat niemand van hulle agter Covid-19 gaan wegkruip nie. Toe die skole heropen, het ons die gr. 12’s volledig teruggebring en daar was heeltyd bykomende goed wat ons vir die matrieks gedoen het.”

Die Hoërskool Randburg se twee uitblinkers is Pieter-Jan Bosman, met agt onderskeidings en die dux-leerling, en Anya Simpson, met nege onderskeidings. Foto: Melinda Stuurman

Vanessa Baloyi (18) het vyf onderskeidings gekry en beoog om LLB-regte aan die Universiteit Stellenbosch te studeer, omdat sy ’n passie het vir dié bedryf. Hoewel sy gelukkig is met haar uitslae, gaan sy haar verbruikerstudie (76%), biologie (59%) en Afrikaans huistaal (79%) se antwoordstelle weer laat nasien.

Die Hoërskool Linden se topdrie is Janco Spies, agt onderskeidings, Dané Taljaard, die dux-leerling met nege onderskeidings, en René Koegelenberg, sewe onderskeidings. Foto: Melinda Stuurman

“Die wagperiode (vir die uitslae) was vir my baie aaklig, want al wat ek letterlik kon doen, was om die heeldag te eet. Die stres was baie erg.”

Vir Juané Geldenhuys (19) was die “lang wag” vir haar uitslae baie senutergend, omdat dit vir haar gevoel het sy kan nie regtig aanbeweeg met haar lewe nie.

Maar Dinsdag kon sy uiteindelik afsluiting kry: Sy het matriek met sewe onderskeidings geslaag.

“Verlede jaar was vir my ’n verskriklike hartseer jaar, want ons het ongelooflik baie goed misgeloop. Dit was net nie dieselfde nie, maar ek is dankbaar dit het op ’n positiewe noot geëindig.”

Sy studeer deeltyds onderwys by Unisa, terwyl sy as ’n assistentonderwyser by die Hoërskool Oos-Moot aangestel is.

“Dit is net iets wat die Here op my hart kom lê het wat ek moet doen. Ek wou altyd medies doen, maar dit was nie die Here se wil nie,” sê Juané.

Johannesburgers ook in hul noppies

Verligting en dankbaarheid beskryf die gevoel onder die matrieks en die skoolbestuur by die Hoërskool Randburg en die Hoërskool Linden in Johannesburg.

Albei skole het ’n 100%-slaagsyfer behaal.

Pieter Booysen, Randburg se skoolhoof, sê hy is dankbaar almal is deur.

“Verlede jaar was ’n moeilike jaar. Onderrig het deur Google Classroom plaasgevind. Die matrieks het aangepas en ’n sukses daarvan gemaak, en ek juig hulle net toe vir wat hulle bereik het,” sê hy trots.

Hoërskool Randburg se leerlinge het 249 onderskeidings behaal, 24 leerlinge het ’n gemiddeld van 80% en meer en 99% kan verder gaan studeer.

Die Hoërskool Waterkloof se matriekklas van 2020 het vroeg hul uitslae by die skool gaan haal. Sashe Everitte (grys T-hemp) het drie onderskeidings behaal en gaan bourekeningkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer. Foto: Deaan Vivier

Randjies se twee uitblinkers is Pieter-Jan Bosman, met agt onderskeidings, en Anya Simpson, met nege onderskeidings.

Pieter-Jan sê hy het hard gewerk, want hy wou gekeur word om medies te studeer.

“Ek het van jongs af al geweet ek wil medies swot en ek weet keuring vir medies is baie streng. So ek het nog altyd ’n groot motivering gehad om hard te werk,” sê hy.

Anya kon nie ophou glimlag toe sy haar uitslae sien nie. Sy sê sy is trots op haarself en sy het hard daarvoor gewerk. Anya gaan vanjaar BCom- forensiese rekenmeesterskap aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom studeer.

Die Hoërskool Linden se leerlinge het 227 onderskeidings behaal en 95,08% van die leerlinge slaag met universiteitstoelating.

Die topdrie by Hoërskool Linden is Dané Taljaard met nege onderskeidings, Janco Spies met agt onderskeidings en René Koegelenberg met sewe onderskeidings.

Janco sê sy tas is gepak en hy is gereed om ’n Tukkie te word. Hy gaan vanjaar rekenaarwetenskap studeer. Dané gaan vanjaar aktuariële wetenskap, ook by Tuks, studeer.

“Ek het nog altyd ’n voorliefde vir wiskunde en statistieke gehad. My brein is analities,” sê sy.

René sê sy het nie sewe onderskeidings verwag nie. Sy het tipe 1-diabetes en het van Maart af by die huis geleer. Sy het die beste gevaar in haar gunstelingvak, rekeningkunde. René gaan vanjaar by die Universiteit van Johannesburg BCom-rekeningkunde studeer.

Dr. Nico van Niekerk, Linden se adjunkhoof, sê die skool is trots.

“Ons is ongelooflik dankbaar dat dit so goed gegaan het. Ons is trots op ons leerlinge.”

Meer oor:  Hoërskool Waterkloof  |  Pretoria  |  Matriekuitslae  |  Matrieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.