Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Nege van die top 20-skole is Afrikaans

Afrikaanse skole is “eilande van uitnemendheid” wat uitstaan in die see van swak funksionerende skole wat hul leerlinge nie op die uitdagings van die toekomstige werkplek voorberei nie.

Matrieks van die Hoërskool Charlie Hofmeyr in Ceres vier hul uitslae vroeër die maand. Foto: Ané van Zyl

Só sê die Skole-ondersteuningsentrum (SOS) in sy jaarlikse matriekverslag. Alle skole wat Afrikaans as huistaal aanbied, word vir die doeleindes van die verslag beskou as Afrikaanse skole. Dis 10,2% van al die skole.

Afrikaanse skole se slaagsyfer is 87,1% teenoor die nasionale 2019-slaagsyfer van 81,3%.

Afrikaanse skole is ook voor in die koor wat B-graadtoelating betref. “Byna die helfte (49,9%) van leerlinge in Afrikaanse skole kry toegang tot dié verdere studie­geleentheid. Dit beteken dat Afrikaanse skole verantwoordelik is vir 18% van die leerlinge wat toegang tot B-grade verkry,” sê Melanie Buys, onderwysspesialis van die SOS.

As ’n mens bloot na die getal onderskeidings kyk (en nie die getal kandidate per skool in ag neem nie), is al vier die topskole in die land en nege van die top-20-skole Afrikaans. Die Afrikaanse Hoër Meisieskool het die meeste onderskeidings in die land, naamlik 811, behaal. Die Hoërskool Garsfontein het 783, die Hoërskool Menlopark 737 en die Hoërskool Waterkloof 723. Al vier dié skole is in Pretoria.

As die getal kandidate van elke skool in ag geneem word, pronk drie Afrikaanse skole onder die top-20 in die land. Hulle is die Hoër Meisieskool Bloemhof met 3,61 onderskeidings per kandidaat, Afrikaanse Hoër Meisieskool met 3,59, en die Hoër Meisieskool La Rochelle met 2,88.

Dit is opvallend dat al drie dié skole enkelgeslagskole is, sê Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS.

Buys het uitgewys dat 256 338 leerlinge landwyd vir wiskunde ingeskryf het, maar net 222 034 het vir die eksamen opgedaag, met ander woorde 34 304 het net “verdwyn”. Van die 22 679 wat by Afrikaanse skole vir wiskunde ingeskryf het, het net 269 nie opgedaag nie.

Agt van die top-20-skole met die meeste wiskunde- en rekeningkunde-onderskeidings is Afrikaans. Van die 20 skole met die meeste onderskeidings in fisiese wetenskappe is ses Afrikaans, en in lewenswetenskappe vyf.

Daan Potgieter, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), sê moedertaalonderrig is onontbeerlik vir leerlinge se sukses. Om ten gunste van moedertaalonderrig te wees, het volgens hom niks te make met Engels of ’n anti-Engelse sentiment nie.

“Dis nie net ’n grondwetlike reg nie, maar ’n internasionale reg vir ’n kind om onderrig te word in sy moedertaal.”

Meer oor:  Matrieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.