Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
ANC: ‘Gehalte van onderwys in W-Kaap ly onder DA’

Die ANC in die Wes-Kaap sê die gehalte van onderwys in die provinsie gaan agteruit en ’n herstelplan is nodig om veral sukkelende skole in minder bevoorregte gebiede te ontwikkel en te verbeter.

Khalid Sayed, ANC-LPW, het Donderdag in die wetgewer gesê onderwys in dié DA-beheerde provinsie gaan agteruit, terwyl die party sy eie beuel blaas.

Matrieks van 2019 van die Paarl Gimnasium vier Woensdag hul matriekuitslae saam met Debbie Schäfer (middel), LUR vir onderwys in die Wes-Kaap. Links voor word Veneco Siebritz (18), wat aan die skool gematrikuleer het, deur sy pa en Schäfer se lyfwag, Morné Siebritz, gelukgewens. Foto: Adrian de Kock

“Die Wes-Kaap het weer met ’n vierde plek in die land en ’n 82,3%-slaagsyfer teleurgestel.”

Volgens die ANC beteken dit dat bykans 20%, of een uit elke vyf leerlinge in die provinsie, gedruip het.

“Die Metro-Noord-onderwysdistrik is die beste in die Wes-Kaap vanweë sy aantal vakonderskeidings. Wat dié distrik se uitslae bewys, is dat dit meestal die bevoorregte skole, oftewel ou Model C-skole in die provinsie is wat goed gevaar het.”

Hy het gesê dieselfde kan nie gesê word van die Metro-Oos-onderwysdistrik nie, wat die swakste gevaar het.

“Daar is ook geen bewyse dat dit gaan verbeter nie en daarom moet die regering in die Wes-Kaap ’n herstelplan vir onderwys saamstel.”

Hy het gesê die Wes-Kaap moet sy kundiges en onderwysers gebruik om die plattelandse uitvalsyfer te verminder.

Volgens hom het die township-skole ook steeds weens die ongelyke toedeling van hulpbronne, toerusting en infrastruktuur ’n agterstand.

“Tensy iets drasties verbeter, bestaan die gevaar dat die helfte van die leerlinge wat met gr. 1 in die Wes-Kaap begin, nie matriek sal klaarmaak nie.”

Ons wil alle leerlinge wat nie tevrede is met hul uitslae nie, aanmoedig om nie wanhopig te wees nie, maar om alle beskikbare opsies te oorweeg om hul doelstellings te bereik,
Jonavon Rustin, Sadou se provinsiale sekretaris.

Die ANC het matrikulante en hul onderwysers vir hul harde werk geloof en leerlinge wat onder moeilike omstandighede skool toe moes gaan en nie geslaag het nie, aangemoedig om weer te probeer en nie tou op te gooi nie.

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys, sê die uitslae dui daarop dat daar sedert 2009 wel vordering met die verbetering van die onderwysstelsel en leerling-uitkomste in die provinsie, veral in armer skole, gemaak is.

“Dit is ’n weerspieëling van ’n volwasse provinsiale onderwysstelsel wat positief op verbeterings en ingrypings reageer,” het sy gesê.

Schäfer sê hulle besef dat verdere ingrypings en verbeterings nodig is om te verseker dat alle leerlinge gelyke toegang tot gehalte-onderwys in die provinsie het.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het matrieks en hul onderwysers vir hul harde werk geloof.

“Jul harde werk het verseker dat die provinsie die meeste onderskeidings het. Die drie topmatrieks is ook van die Wes-Kaap.”

Winde het matrieks wat hul uitslae oor die volgende paar dae vier, gevra om dit op ’n verantwoordelike manier te doen.

“Vir diegene wat teleurgesteld is, is daar ander paaie na sukses. Oorweeg al jou opsies, insluitend die hersien of herskryf van vraestelle,” het hy gesê.

Die DA in die Wes-Kaap het ook die uitslae verwelkom en gesê dat die klas van 2019 ’n ongelooflike slaagsyfer behaal het en ook die beste retensie-koers in die land het.

“Dit beteken dat meer leerlinge wat in 2017 vir gr. 10 geregistreer het, in 2019 matriek in die Wes-Kaap geslaag het as in enige ander provinsie, met 54,9% wat matriek voltooi het, vergeleke met die nasionale gemiddelde van 39%.

“Dit spreek boekdele van die onderwysdepartement se verbintenis daartoe om gehalte-onderwys aan elke leerling te bied,” het die DA gesê

Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) in die Wes-Kaap het die matrieks sterkte toewens met hul toekomsplanne en onderwysers lof vir hul harde werk toegeswaai.

“Ons wil alle leerlinge wat nie tevrede is met hul uitslae nie, aanmoedig om nie wanhopig te wees nie, maar om alle beskikbare opsies te oorweeg om hul doelstellings te bereik,” het Jonavon Rustin, Sadou se provinsiale sekretaris, gesê.

Die vakbond sê dit is vir hom ’n voorkeursaak om te verseker dat leerlinge matriek voltooi en nie die stelsel verlaat nie.

Meer oor:  Anc  |  Wes-Kaap  |  Matriekuitslae  |  Toppresteerders  |  2019  |  Matrieks  |  Slaagsyfer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.