Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Artritis keer nie dié aanhouer en uithouer nie

Fyntjies en stilletjies kom sy in die gang afgestap om die voordeur oop te sluit. Agter dié blondekop sleep daar ’n masjien agterna waardeur sy ’n binneaarse drup ontvang.

Claudia du Plessis (18) van die Hoërskool Eldoraigne in Centurion. Foto: Andrea Küsel

Op 14-jarige ouderdom is Claudia du Plessis (18) gediagnoseer met ’n tipe artritis wat onder jong mense voorkom.

Sy het egter nie dat dié siekte haar terughou nie en in matriek het sy sewe onderskeidings aan die Hoërskool Eldoraigne in Centurion behaal.

“My gewrigte is baie seer en swel op. Van my gewrigte het al begin verkrummel, maar ons kon dit in ’n mate keer met medikasie. Ek is baie geseënd om in ’n tyd te leef waar daar medisyne is wat so iets kan keer.”

Sy kry elke twee maande aarvoeding by ’n hospitaal in Johannesburg sodat haar toestand nie vererger nie.

“Dis moeilik by die skool, want dis ’n groot skool met baie trappe. As ek by die huis kom, is ek heeltemal gedaan. Ek het net aan die begin vir myself gesê my akademie is belangriker as my siekte.”

Claudia het ook ’n immuungebrek. “Die artritis is ’n outo-immuunsiekte. My immuunstelsel val my gewrigte aan.”

Die immuungebrek veroorsaak dat sy vinnig siek raak en sy moet vir dié gebrek ook gereeld aarvoeding ontvang.

Op die vraag oor watter impak haar siekte op haar lewe het, antwoord sy dat sy baie dinge misloop.

“Dit maak my nogal hartseer. Ek kan nie regtig kuier met my vriende nie, dit is altyd ’n kwessie. Ek wonder altyd of ek oukei gaan wees as ek byvoorbeeld by my vriendin gaan oorslaap. Ek kan niks doen sonder om te wonder watter invloed dit gaan hê op al my probleme nie.”

Weens haar siekte moes sy in gr. 11 ’n operasie aan haar hand ondergaan omdat sy gevoel in haar een vinger verloor het. In matriek moes sy weer ’n operasie ondergaan om kraakbeen in haar kakebeen te vervang.

“Ek was só gefrustreerd toe ek die handoperasie gekry het. Ek kon nie my hare self vasmaak nie en iemand moes my wetenskap-vraestel vir my skryf.”

Claudia sê haar siekte is nie maklik geneesbaar nie en sy sal waarskynlik vir die res van haar lewe medikasie daarvoor moet neem. “Ek het dit nou al aanvaar en ek het vrede gevind.”

Ten spyte van haar siekte het sy steeds uitgeblink op skool. Sy sê dit is danksy die passievolle manier waarop haar onderwysers hul werk doen.

Claudia het onderskeidings in fisiese wetenskap, lewenswetenskap, rekenaartoepassingstegnologie, Afrikaans, Engels, wiskunde en lewensoriëntering behaal.

Haar gunstelingvak is lewenswetenskap. “Dis altyd vir my lekker om te dink hoe alles inmekaar pas. Ons liggaam werk op só ’n ingewikkelde manier en ons hoef niks te doen om dit so te laat werk nie.”

Die immunoloog het gesê ek gaan te maklik tuberkulose kry. Ek kan nie gaan medies studeer nie omdat dit my kanse daarvoor verhoog.

Claudia gaan vanjaar haar BSc-graad in mensgenetika aan die Universiteit van Pretoria (UP) aanpak. Sy wil graag eendag ’n navorser word en beplan om nog haar doktorsgraad te voltooi.

Sy wou aanvanklik studeer om ’n mediese dokter te word, maar weens haar siekte is dit te gevaarlik.

“Die immunoloog het gesê ek gaan te maklik tuberkulose kry. Ek kan nie gaan medies studeer nie omdat dit my kanse daarvoor verhoog.”

Claudia sê sy was aanvanklik kwaad en hartseer daaroor maar besef toe dat sy in elk geval uiteindelik navorsing sou wou doen.

Sy het 12 jaar lank aan redenaars deelgeneem en tien jaar lank drama gedoen.

“Ek is ’n introvert, maar ek het nog altyd daarvan gehou om voor mense te praat. Dit het my ook baie gehelp met my selfvertroue omdat ek baie skaam was toe ek klein was.”

Sy het in gr. 11 die Van Huyssteens-oratorsfees se individuele afdeling in Engels gewen en in matriek het sy en haar span die tweetalige afdeling gewen.

Albei haar ouers, Jean (53) en Leana (51), is geoktrooieerde rekenmeesters. Haar suster, Moné (21), studeer BComm-rekeningkunde aan die UP.

Meer oor:  Centurion  |  Matriek2019  |  Matriekeksamen2019  |  Matrieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.