Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Avukile Oos-Kaap se beste ondanks omstandighede

Daar woon 14 mense in die laekostehuis waar hy woon en sy ma, wat hom onderhou, is ’n straatverkoper, maar Avukile Nkayi is die Oos-Kaap se topmatrikulant vir 2018.

Avukile (19) het sy matriekjaar aan Nyanga Senior Secondary School in Ngcobo voltooi. Hy het sewe onderskeidings behaal en het onder meer 99% vir lewenswetenskappe en fisiese wetenskap gekry.

Avukile Nkayi, die Oos-Kaap se topmatrikulant vir 2018, met sy toekennings. Foto: Facebook

Dié prestasies volg te midde van uiterse moeilike omstandighede by sy huis waar sy ma, Margaret, reeds jare lank groente en vrugte op straat verkoop om vir hom te sorg. Sy pa is kort ná sy geboorte oorlede.

Op Vrydagaand se galageleentheid in Oos-Londen is hy as die Oos-Kaap se topmatrikulant aangewys.

Hy is ook vroeër as die naasbeste leerling in die kategorie vir kwintiel 3-skole in die land aangewys.

“Ek het dit geensins verwag nie. Nie eens vir een oomblik nie. Maar ek was baie opgewonde toe hulle my naam uitlees,” het Avukile gesê.

Hy erken dit was nie altyd maklik om by sy huis te studeer met die 14 familielede wat ook daar woon of saans wanneer daar geen elektrisiteit is nie.

Avukile skryf sy sukses in matriek toe aan die ekstra klasse en wiskundekampe wat hulle as matriekklas bygewoon het.

Sy onmiddellike toekomsplanne behels om medies by die Universiteit van Kaapstad te studeer.

“In ons gemeenskap is daar ’n groot behoefte aan mediese dokters. Ek sal graag ’n verskil in my gemeenskap maak, as ’n dokter.”

Margaret Nkayi, Avukile se ma, verkoop groente en vrugte om haar en haar seun te onderhou. Foto: Facebook

Avukile sê hy gaan sy ma mis terwyl hy in Kaapstad studeer, maar het hom voorgeneem om so gou moontlik terug te keer as ’n gekwalifiseerde dokter en hoop om dán vir sy ma te kan sorg. “Sy het so hard gewerk om my deur die skool te kry. Sy kon aan die einde van gr. 11 vir my ’n beurs kry om verder ná skool te studeer. My ma het vir my voorsien, ek wil eendag vir haar kan sorg.”

Intussen het die onderwysdepartement Uzma Shaikh van Umtata High School in Mthatha as die tweede beste matrikulant in die Oos-Kaap aangewys.

Sy het in vyf van haar sewe vakke meer as 90% behaal.

Die derde posisie word deur Francois Naudé van Stirling High School in Oos-Londen en Adrian Grové van Hoërskool Pearson in Port Elizabeth gedeel.

Grové sê hy was totaal oorweldig toe hy saam met Naudé as die derde beste matrikulant in die provinsie aangewys is.

“Dit is nogal vreemd om te dink iemand anders het presies dieselfde punte as jy gekry, maar terselfdertyd was dit lekker om ná al die harde werk erkenning te kry.”

Grové, wat vir ’n aktuaris aan die Universiteit Stellenbosch in die Wes-Kaap gaan studeer, se boodskap aan vanjaar se matrikulante is om nooit moed op te gee nie.

“Matrikulante moet nie dat een moeilike vraestel hulle onderkry nie. Hulle moet net harder leer vir die volgende een. Jy hoef nie een van die topmatrikulante te wees nie, stel jou eie doelwitte en maak seker jy bereik dit.”

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Ngcobo  |  Matriekeksamen2018  |  Matrieks  |  Toppresteerder  |  Matriekuitlae2018
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.