Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Baie om te vier, selfs al daal slaagsyfer, sê Schäfer

Hoewel die Wes-Kaap se slaagsyfer in 2020 gedaal het, is daar nog baie om te vier en het die provinsie se slaagsyfer die minste van almal afgeneem, sê Debbie Schäfer, LUR vir onderwys.

Sy het Maandagaand alle leerlinge wat hul matriekjaar onder moeilike omstandighede en groot onsekerheid geslaag het, gelukgewens.

Leerlinge in die Wes-Kaap kan hul uitslae Dinsdagmiddag by hul skole gaan afhaal of die provinsiale departement van onderwys se webwerf besoek.

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys. Foto: Deon Raath

Schäfer sê dit is verstaanbaar dat alle provinsies se slaagsyfer weens die ontwrigting deur die koronaviruspandemie gedaal het.

Sy het egter tevredenheid uitgespreek dat die Wes-Kaap se slaagsyfer net met 2,4 persentasiepunt afgeneem het tot 79,9% vergeleke met ’n gemiddelde nasionale daling van 5,1 persentasiepunt.

Van die 51 633 leerlinge in die provinsie wat die matriekeksamen afgelê het, het 41 250 geslaag.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die Maandagmiddag die matriekuitslae landwyd bekend gemaak en aangekondig dat die Vrystaat die hoogste slaagsyfer het van 85,1%, gevolg deur Gauteng op 83,8% met die Wes-Kaap in die derde plek.

Die Wes-Kaap spog ook met die twee leerlinge met die beste uitslae vir wiskunde landwyd.

Landwyd het 177 435 leerlinge onderskeidings behaal, met KwaZulu-Natal, Gauteng, die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en Limpopo wat die meeste hiertoe bygedra het. Daar was in 2020 nasionaal 13,1% meer onderskeidings as in 2019.

Schäfer sê ten spyte van die inperkings, die ontwrigting van die skoolkalender en onsekerheid deur die jaar “het ons gesien dat die gehalte van ons matriekuitslae weer eens verbeter het, sowel as die behoud van leerlinge van gr. 10 af.”

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys Foto: GCIS

Daarby het die persentasie matrieks wat universiteitsvrystelling behaal het die hoogste vlak nog in die Wes-Kaap bereik op 43,8%.

Dit het toegeneem van 43,6% in 2019 en 42,3% in 2018.

“Die Wes-Kaap verseker steeds dat meer van ons leerlinge van gr. 10 aangaan om hul matriekeksamen twee jaar later te skryf. 66,6% van ons leerlinge van gr. 10 in 2018 het dié jaar geskryf – die hoogste persentasie in die land.”

Schäfer sê sy is uiters trots op die klas van 2020 wat hulle daartoe verbind het om die skooljaar te voltooi.

“Dit getuig van hul veerkragtigheid en pligsgetrouheid, maar ook die harde werk en toewyding van hul onderwysers, wat onder erge druk verkeer het om onder buitengewone omstandighede te presteer.”

Sy het ook verwelkom dat die slaagsyfer vir wiskunde (70,8%) en wiskundige geletterdheid (82,9%) in die provinsie teenoor die vorige jaar verbeter het.

Die onderwysdistrik wat die beste in die provinsie gevaar het, is metro-noord in Kaapstad met ’n slaagsyfer van 85,4%.

Luidens die verslag oor die 2020 nasionale seniorsertifikaateksamen het die persentasie leerlinge met universiteitsvrystelling landwyd van 36,9% in 2019 tot 36,4% in 2020 gedaal.

Die getal leerlinge wat universiteitsvrystelling gekry het, het egter toegeneem van 186 058 in 2019 tot 210 820 in 2020.

Gauteng het die hoogste persentasie leerlinge met universiteitsvrystelling (45,1%), gevolg deur die Wes-Kaap (43,8%) en die Vrystaat (40,4%).

Meer oor:  Debbie Schäfer  |  Wes-Kaap  |  Matriekuitslae  |  Onderwys  |  Resultate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.