Die vrae in die tweede besigheidstudies-vraestel wat Woensdag geskryf is, is so goed afgewissel dat leerlinge nie baie punte sou verloor het as hulle sekere onderwerpe nie geken het nie.
Vanjaar se matrieks is die eerste groep wat vir twee besigheidstudies-vraestelle in die eindeksamen moes leer. Die eerste vraestel is op 18 November geskryf.
Stephanie Booysen, ’n gr. 12-onderwyseres in besigheidstudies by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, is positief oor die tweede vraestel, hoewel leerlinge meen die vrae in afdeling A is só gestel om hulle uit te vang.
“Afdeling A was nie maklik nie. As jy kyk na die multikeuse-vrae, is daar gewoonlik vier keuses. In dié vraestel is twee van hulle beslis verkeerd, maar die twee ander antwoorde was baie na aan mekaar, so leerlinge moes baie mooi kyk.”
Sy sê afdeling B was vir leerlinge heerlik.
“Niks is snaaks gevra nie, alles kom uit die notas en omdat die leerwerk gewoonlik meer is as vir vraestel 1, kon die vrae hier nêrens in diepte op een ding fokus nie. As jy iets nie geken het nie, dan het jy net twee of vier punte hier of daar verloor, so die impak was nie so groot nie.”
My voorspelling is dat leerlinge vanjaar beter sal vaar.
Die lang vrae in afdeling C oor besigheidsgeleenthede en besigheidsrolle was volgens Booysen onverwags.
“Hulle het ons nogal onkant gevang. Dit is nie iets wat ons vir ’n lang vraag verwag het nie. Maar weer het hulle dit so vervleg dat daar nie net op een onderwerp gefokus is nie. Leerlinge sal nie nul vir ’n lang vraag kry nie,” sê sy.
Onderwysers hou nou duimvas dat die memorandum en nasienproses goedgunstig is.
Booysen het ná die eerste vraestel gesê probleme duik sedert 2017 op, omdat die memorandum baie eng opgestel is en nie ruimte vir goed soos sinonieme gee nie.
Sy meen wel vergeleke met vorige jare, is vanjaar se vraestelle baie goed opgestel.
“My voorspelling is dat leerlinge vanjaar beter sal vaar. Die individuele aandag wat ons skool weens die inperking vanjaar aan matrieks gegee het, is baie meer as ander jare.
“Ek verwag die punte gaan beter wees. Vorige jare was daar situasies waar alle skole dalk nie dieselfde notas gehad nie. Die eksaminatore het regtig vanjaar moeite gedoen om goed te wees vir elke liewe kind,” sê sy.