Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
‘Covid-19 het geen effek op ons slaagsyfer’ – IEB

“As die afgelope tien jaar se uitslae blare was wat ’n mens in die lug kon gooi, sou ’n mens nie die Covid-19-jaar tussen hulle kon uitken wanneer die blare op die vloer val nie.”

So sê Anne Oberholzer, uitvoerende hoof van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB), oor die effek wat Covid-19 op hul slaagsyfer gehad het.

’n Slaagsyfer van 98,07% is in die IEB-uitslae behaal, wat effens laer as die slaagsyfer van 98,82% in 2019 en die slaagsyfer van 98,92% in 2018 is.

Die persentasie leerlinge wat vanjaar met universiteitsvrystelling geslaag het, is 88,42%. In 2019 was dit 89,51% en in 2018 was dit 90,65%.

“Ons slaagsyfer is altyd tussen 98% en 99%. Ons glo ook dat dit nie net een jaar is wat ’n kind se skoolloopbaan maak of breek nie.

“Ja, matriek is belangrik, maar ’n mens skerp eintlik net die kennis en vaardighede op wat jy reeds het,” sê Oberholzer.

Hierteenoor het skole wat nog altyd gesukkel het, nóg meer agtergeraak.

Sy voeg by dat daar meer kommer oor 2021 se matrikulante is, omdat hulle nie noodwendig al die nodige aandag in hul gr. 11-jaar gekry het nie.

Oberholzer verduidelik dat hoewel die meerderheid onafhanklike skole die nodige toerusting en hulpbronne gehad het om die 2020-skooljaar voort te sit, was daar steeds skole wat gesukkel het.

“Maar ’n mens kan dit nie vergelyk met die openbare skole nie. Ons het ’n bietjie meer as 12 000 leerlinge, waar die staat amper ’n miljoen het. Ons het skole wat sukkel, maar dit is nie naastenby so baie of so erg soos in die staat nie.”

Oberholzer sê die leerlinge wat gevoel het hulle kon nie die mas opkom weens Covid-19 nie, het hul studies gestaak en sal dit vanjaar weer voortsit.

’n Slaagsyfer van 98,07% is in die IEB-uitslae behaal. Foto: Argief

Prof. Chika Sehoole, hoof van die onderwysfakulteit van die Universiteit van Pretoria, stem met Oberholzer saam dat een jaar nie noodwendig ’n mens se skoolloopbaan maak of breek nie.

“Dit is so dat die onafhanklike skole meer hulpbronne het wat hulle meer gehard maak teen die pandemie, maar hulle het ook ’n sterk fondament.

“Die uitkomste van die gehalte van die onderwys word nie gemeet aan dit wat in een jaar gebeur nie. Dit is kumulatief van wat sedert gr. 1 gebeur het.”

Sehoole sê openbare skole sou baie meer gesukkel het om veerkragtig en innoverend tydens die pandemie te bly.

“Ja, daar is skole wat baie goed gevaar het tydens nie pandemie, maar dit is skole wat nog altyd goed vaar en wat die hulpbronne en ondersteuning het om ’n sukses te kan maak.

“Hierteenoor het skole wat nog altyd gesukkel het, nóg meer agtergeraak,” sê Sehoole.

Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, maak Maandag die matriekuitslae van die openbare skole bekend.

Meer oor:  Ieb  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Slaagsyfer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.