Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
De Rust-skool se spogleerlinge mik nou nog hoër

Een van die De Rust Sekondêre Skool se toppresteerders sê hy wil eendag ’n advokaat “of selfs hoër” word, want hy wil net geregtigheid sien geskied.

Delano Abrahams (18) is een van sy skool se uitblinkers en is nou gereed om hom vir ’n loopbaan in die regte te begin voorberei.

Graham Herold, skoolhoof, by die De Rust Sekondêre Skool se toppresteerders in verlede jaar se matriekeksamen. Van links is Delano Abrahams, Crystal Booysen en Herold.

Die De Rust Sekondêre Skool van De Rust by Oudtshoorn se 2019-matrieks het ’n slaagsyfer van 98,14% behaal, die hoogste tot dusver, asook ’n besonder hoë slaaggehalte, sê Graham Herold, skoolhoof. Uit die 54 leerlinge wat die eksamen afgelê het, het 53 geslaag en 30 het matriek met universiteitstoelating verwerf.

Die topleerling, Crystal Booysen van Blomnek, spog met ’n gemiddelde van 75,7% met drie A-simbole, in Afrikaans, besigheidstudies en geskiedenis. Sy gaan in 2020 aan die Universiteit van die Vrystaat BCom studeer.

Abrahams is tweede met ’n gemiddelde van 72,9% met onderskeidings in Afrikaans, Engels en geskiedenis.

Hy gaan vanjaar aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus begin met ’n LLB-graad.

Abrahams woon op die plaas Vlakteplaas. Sy pa is ’n plaaswerker en sy ma is in 2011 oorlede. Sommige vakansietye werk hy op die plaas vir ekstra sakgeld.

“Ek kan nie kla oor my omstandighede nie. Ons is nie arm nie, ons is nie ryk nie, ons val op die vlak van gewone mense.

“Ek het nog nooit honger gaan slaap nie,” sê hy.

Sy opvoeding was vir hom belangrik en hy het deurentyd hard gewerk om sy punte hoog te hou op skool, sê hy. “Ek het altyd alles ingesit.”

Sy droom is om in die regte te werk. “Ek wil eintlik ’n advokaat of nog hoër wees. Ek is ’n persoon wat daarvan hou dat geregtigheid geskied. Daar moenie onskuldige mense in ’n tronk sit nie.”

Die skool, met sy 500 leerlinge, bedien die dorpie De Rust, asook die gemeenskappe op plase om De Rust, insluitende Klaarstroom, Vlakteplaas, Middelplaas, Oude Muragie tot sover as Snyberg wat ongeveer 35 km van die skool af geleë is, sê Herold.

“Hegte verhoudings van wedersydse respek en vertroue word geskep, en dit speel ’n belangrike rol in die lewe van veral die leerlinge wat in huise grootword sonder ’n vaderfiguur. Die skool is toegewyd tot waardegedrewe opvoeding, en poog om fisiek en emosioneel ’n veilige omgewing te skep waarin leerlinge hul volle potensiaal kan bereik,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.