Die matrikulante van die Hoërskool Eldoraigne in Centurion wat Donderdag die eerste geskiedenisvraestel geskryf het, het breed geglimlag toe hulle uit die eksamenlokaal stap.
Henno Liebenberg, Kayla Maree en Heinrich Engelbrecht sê die vraestel was gebalanseerd met moeilike en makliker vrae. Die vraag oor die swartmagbeweging kon hulle goed antwoord. Die vraag handel in geheel oor watter programme die Black Panther-Party in die 1960’s in die Verenigde State van Amerika in werking gestel het.

Kayla Maree (voor), Heinrich Engelbrecht (links) en Henno Lienbenberg (regs) van die Hoërskool Eldoraigne bespreek die geskiedenisvraestel.Foto: Brümilda Swartbooi
In die afdeling moes matrikulante gebruik maak van vier bronne in die addendum om die vrae te beantwoord.
Die afdeling sluit onder meer vrae in soos: Noem drie gemeenskapsprogramme in die bron wat die Black Panther vir swart Amerikaners gereël het? Wat, volgens Ericka Huggins, moet die stad Oakland doen om die lewens van swart Amerikaners op te hef? Definieer die konsep swart nasionalisme in jou eie woorde?
Die drie sê die opstelvrae in afdeling B was verstaanbaar. In die afdeling moes matrikulante ten minste een vraag in die afdeling voltooi, maar nie meer as twee vrae nie en elke vraag het 50 punte getel. Die opsies was ’n gevallestudie oor China, ’n vergelykende gevallestudie – die Kongo en Tanzanië, en ’n vraag oor die burgerlike protes van die 1950’s tot die 1970’s.
Henno beskryf die vraestel as uniek en sê dit was ’n goeie begin vir die geskiedenisvraestelle. “Ek mik vir ’n onderskeiding,” sê hy.
Kayla sê in die vorige eksamen kon sy nie ’n onderskeiding behaal nie, maar sy het hard gewerk en hoop sy sal dié keer ’n onderskeiding behaal.
Heinrich sê hy voel ook goed oor hoe hy die vraestel beantwoord het.
Matrikulante skryf Dinsdag 1 Desember geskiedenis vraestel twee.