Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Eunice se topmatrieks groet met inspirerende woorde
Eunice High School for Girls se topmatrieks vir 2020 wat Maandag by die skool se toekenningsgeleentheid vereer is. Zinnette de Wet, skoolhoof, middel voor, met regs van haar Jeannine Saffy-Tyropolis (beheerliggaam), Sandra Smith (Standard Bank), gevolg deur die oudleerlinge Hané Zeeman, Jacolette Wessels, Lisa Reblin, Tazneen van der Merwe, Jocelyne Smith, Chané van Burick, Kyla van Wyk, Suné Venter, Delien Kleynhans, Taegen Regal, Maude Kruger, Ané Meyer en Simoné du Plessis. Kennith Lawrence (Standard Bank) staan agter Simoné, gevolg deur Brendan Jacobs (Standard Bank) en oudleerling Caitlin van Wyk. Foto: Estiaan Terblanche

Die oomblik waarna talle leerlinge van die Eunice High School for Girls in Bloemfontein sedert hul gr. 8-jaar uitsien, het aangebreek.

Die skool het Maandag 24 van sy toppresteerders in verlede jaar se matriekeindeksamen, waarvan 14 teenwoordig was, vereer. Die oudleerlinge het elk ook ’n motiveringsboodskap gelewer.

Die geleentheid is weens die Covid-19-protokol hoofsaaklik deur dié oudleerlinge se ouers bygewoon, en digitaal uitgesaai.

Eunice het verlede jaar 349 onderskeidings met sy 159 kandidate ingeoes, met onder meer twee leerlinge wat agt onderskeidings elk behaal het, 11 leerlinge met sewe onderskeidings elk en 11 leerlinge met ses onderskeidings elk.

Dit is die 35ste jaar agtereenvolgens dat die skool ’n 100%-slaagsyfer behaal. Eunice het ’n universiteitstoelatingskoers van 97% en 92 van 2020 se matrieks het ’n gemiddeld van bo 70%.

Chané van Burick, met ’n gemiddeld van 83% en ses onderskeidings, se droom om op dié geleentheid haar toespraak te lewer, is verwesenlik.

Chané, wat hakkel en nooit voor mense mondeling gepraat het nie, het hier haar boodskap in Afrikaans gedeel, sonder om te hakkel.

Zinnette de Wet, hoof van Eunice High School for Girls, op die verhoog met van die skool se top-matrieks van 2020 by haar.Foto: Mlungisi Louw

“As jy iets wil doen en dit lyk onmoontlik, want dit het onmoontlik gelyk – dit is moontlik en moenie opgee nie.”

Sy gaan optometrie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer.

Jacolette Wessels, met ’n gemiddeld van 91% en agt onderskeidings, se boodskap aan leerlinge is dat alles oukei sal wees. “Asem diep in, ontspan, herevalueer jou situasie en fokus op een ding op ’n slag,” sê Jacolette.

Dié toekomstige nywerheidsingenieur sê sukses hoef nie meer te wees as om jou beste te gee nie. Die Vrystaatse departement van onderwys het haar vir haar prestasie van 94% in rekeningkunde erken.

Maude Kruger, wat sewe onderskeidings en ’n gemiddeld van 93% behaal het, sê met die hoogte- en laagtepunte van hoërskool is die Hemelse Vader se oorvloedige liefde die een ding wat konstant gebly het.

Maude, wat B Rek aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer, het ook haar familie, vriende en onderwysers vir hul aandeel in haar prestasie bedank.

Die departement van onderwys het haar vir haar prestasie van 83% in Engels (huistaal) erken.

Vir Ané Meyer, met ’n gemiddeld van 89% en sewe onderskeidings, word sukses deur jou ondersteuningstelsel bepaal. “Doen moeite om jou ondersteuningstelsel gereeld te bedank. Hulle is dié wat jou bystaan, maak nie saak hoe die uitslae lyk nie. Dit is belangrik om dankbaar te bly – dit sal jou ver in die lewe bring.”

Prof. Francis Petersen, UV-rektor, praat op die geleentheid.Foto: Mlungisi Louw

Ané, wat vanjaar medies aan die Universiteit van die Witwatersrand gaan studeer, sê alle eer kom God toe.

Caitlin van Wyk, met ’n gemiddeld van 86% en sewe onderskeidings, sê leerlinge moet hulself en hul geestesgesondheid eerste stel en nie uitbranding as ’n ereteken dra nie. Maak tyd vir vriende en familie.

Caitlin gaan vir ’n B Sc-graad in wiskunde en fisika aan die UV studeer.

Sy sê daar gaan altyd werk wees wat jou besig hou, maar jou vriende en familie gaan nie altyd daar wees nie.

Zinnette de Wet, skoolhoof, sê 2020 se matriekklas het buitengewone fokus te midde van onsekere tye getoon.

Jacolette Wessels is een van twee leerlinge van Eunice in Bloemfontein wat agt onderskeidings behaal het.Foto: Mlungisi Louw

De Wet het die skool se matriek-onderwysers, wat provinsiaal en in die distrik uitsonderlik gevaar het, vir hul werk bedank, asook die koshuisouers vir hul bydrae tot die leerlinge se sukses.

Prof. Francis Petersen, rektor van die UV, het ook op die geleentheid gepraat en die skool en sy leerlinge gelukgewens.

Maude Kruger lewer haar toespraak.Foto: Mlungisi Louw

Meer oor:  Matriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.