Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Fokus en geen selfoon help top-leerder van Milnerton
Paul Besener, hoof van Milnerton High School, en Anuoluwa Makinde (17), ’n matriekleerling van dié skool wat met die derde beste uitslae in die land spog.Foto: Malherbe Nienaber

Harde werk en fokus op jou studies werp vrugte af, sê Anuoluwa “Anu” Makinde (17), die matrikulant van Kaapstad wat die derde beste uitslae in die land behaal het.

Anu het Woensdag by Milnerton High School aangekom om haar punte te gaan haal nadat sy die vorige dag die geleentheid bygewoon het waarop die land se top-matrikulante vir 2019 bekend gemaak is.

Sy het die derde beste uitslae in die kwintiel-vyf-skole behaal en haar uitslae is die derde beste uitslae in die Wes-Kaap, met dié dat die topdrie in die provinsie ook die beste in die land gevaar het.

Die skoolhoof, Paul Besener, het gesê “hy kan nie trotser” op dié prestasie wees nie. Hy het ook trots daarop gewys dat die skool die afgelope jaar kon spog met die Springbokspeler Damian de Allende wat in die Wêreldbekerspan was en ook aan dié skool gematrikuleer het.

Anu het vir Afrikaans eerste addisionele taal ook ’n onderskeiding verwerf. “Ek is baie bly en trots dat ek die eksamens so goed geslaag het,” het sy in Afrikaans gesê.

Sy het in Milnerton grootgeword en albei haar ouers is van ander Afrikalande afkomstig.

Anu beoog om ingenieurswese, spesifiek megatroniese ingenieurswese, aan die Universiteit van Kaapstad (UK) of die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer.

“Toe ek gehoor het dat ek onder die top-matrikulante is, was ek eintlik net bly dat ek geslaag het. Ek het nie regtig ’n gunsteling-vak gehad nie en wou in almal goed vaar.”

Sy het ook Engels as huistaal, wiskunde, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe en rekeningkunde as vak geneem.

Met die aanvang van haar matriekjaar het Anu besluit om op te hou netbal speel sodat sy op haar skoolwerk kan fokus, en sy het in die skoolbiblioteek gewerk.

Hoewel sy nie ’n selfoon het of sosiale media gebruik of met vriende uitgegaan het nie, sê Anu sy voel nie dat sy op die ervarings van haar medeleerlinge uitgemis het nie.

“Ek dink as jy te besig is daarmee het jy nie die rustigheid om op jou studies te konsentreer nie.”

Dr. Kitumaini Makinde, haar ma, sê sy het aan die begin van die jaar “ ’n bietjie getwyfel” toe Anu gesê het dat sy onder die beste in die land wil wees.

Anuoluwa Makinde (17), ’n matriekleerling van Milnerton High School met die derde beste uitslae in die land, staan Woensdag by haar gesin, die skoolhoof en die voorsitter van die beheerliggaam. Van links is Ifeoluwa Makinde, haar suster, Anuoluwa Makinde, Paul Besener, skoolhoof, prof. Oluwole Makinde, haar pa, dr. Kitumaini Makinde, haar ma, en Robert Fish, voorsitter van die beheerliggaam. Foto: Malherbe Nienaber

“Ons sou bid, dan sal sy my reghelp as ek die Here vra dat sy die beste in die provinsie moet vaar, en sê, nee, sy wil die beste in die lánd wees. Toe ons die nuus hoor, was ek baie bly, want dit was wat ek verwag het.”

Haar ma is ’n mediese dokter verbonde aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) en is van die Demokratiese Republiek van die Kongo afkomstig.

Haar pa, prof. Oluwole Makinde, is ’n professor in toegepaste wiskunde aan die US en is van Nigerië afkomstig.

Volgens hom was hy besig om PhD-studente in Ethiopië te mentor toe hy die e-pos ontvang het dat Anu na Dinsdag se geleentheid van die departement van basiese onderwys genooi is en dat hy moet terugkeer om haar te vergesel.

“Ek het haar raad gegee en geleer om hard te werk. Harde werk is lonend en het geen kleur of ras nie. Dit waarvoor jy gaan soek, sal jou vind, en jy moenie vir moeilikheid soek nie. Sy het na my geluister en ek is baie gelukkig daaroor.”

Hy het ook sy dogters geleer dat “jou werk jou moet lei” en dat ’n mens nie jouself moet dwing om geld of aansien te kry nie.

“Jou kop kan gemanipuleer word en sy het dit nie toegelaat nie. Ek het ook vir haar gesê om goed te slaap en nie wakker te bly om te studeer nie.”

Volgens Oluwole het hy gesien dat studente aan sosiale media verslaaf raak en hy het Anu gewaarsku dat dit kan veroorsaak dat sy die pad byster raak.

Besener het die leerlinge vroegmiddag op die trappe voor die skool se ingang ingelig dat die skool die 16de jaar agtereenvolgens met ’n slaagsyfer van 100% spog.

Ses matrikulante het sewe onderskeidings en ses het ses onderskeidings behaal. Verder het 85,6% van die matrikulante universiteitsvrystelling verwerf.

“Dit beteken as jy in gr. 8 kom, het jy byna ’n nege uit tien kans om universiteit toe te kan gaan. Vir ’n gewone openbare skool wil dit gedoen wees.”

Volgens Besener is Milnerton High School ook een van die diverste skole in die land deurdat sy leerlinge 37 verskillende huistale het.

“Anu se prestasie is net die kersie op die koek en ek kon nie trotser gewees het nie. Ek kan nie sien hoe ons hierop gaan verbeter nie.”

Meer oor:  Matriekuitslae  |  Toppresteerders  |  2019  |  Matrieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.