Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Geluk, maar dié ses sake pla

Matrieks landwyd vier hul prestasies, maar die hoë slaagsyfer verklap op die oog af nie die ernstige knelpunte in die onderwysstelsel nie. Landi Slatter berig.

Liza Hugo vier saam met Hennie du Plessis van die Hoërskool D.F. Malan in Bellville hul matriekuitslae. Foto: Jaco Marais

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die afgelope week bekend gemaak dat 78,2% van die matriekklas van 2018 geslaag het.

Dit ewenaar die historiese slaagsyfer van 2013 en is net meer as drie persentasiepunte hoër as die slaagsyfer van 75,1% vir 2017.

Verlede jaar se matriekklas is die vyfde groep wat die kurrikulum-en-assesseringsbeleidsverklaring oftewel Caps gevolg het, en die eerste groep wat in 12 nuwe vakke hul eindeksamen kon aflê. Onder die nuwe matriekvakke is gebaretaal as huistaal, tegniese wiskunde asook siviele, elektriese en meganiese tegnologie. Ses kommerwekkende kwessies wat in Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys, se tegniese verslag na vore kom, is:

1. Inskrywings vir rekeningkunde en ekonomie het in 2018 aansienlik afgeneem. Altesame 11 596 minder matrikulante as die vorige jaar het in rekeningkunde en 11 595 minder in ekonomie eksamen afgelê.

2. Leerlinge wat deurgesit is sonder dat hulle aan die minimum akademiese vereistes voldoen. In 2018 is 128 634 sulke leerlinge deurgesit na matriek teenoor 107 430 die vorige jaar. Volgens die departement gebeur dié bevorderings ingevolge streng riglyne en internasionale standaarde.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, sê egter in byvoorbeeld Finland sal so ’n leerling geïdentifiseer word vóór hy druip en dan met kundigheid ondersteun word.

3. Verskillende geleenthede om eksamen te skryf. Sou leerlinge wat na matriek deurgesit is sukkel, kan hulle hul eksamens versprei. So kan hulle byvoorbeeld drie eksamens in November aflê en die res in die volgende Junie.

Net 33 412 van die 128 634 leerlinge wat begin 2018 na matriek deurgesit is, het reeds al sewe hul vakke se eksamens afgelê. Van hulle het 20 122 geslaag. Nomsa Marchesi, die DA se woordvoerder oor basiese onderwys, sê dis nie duidelik hoeveel leerlinge die res van hul eksamens in Junie sal aflê nie. “Talle kan uit die stelsel verdwyn om provinsiale slaagsyfers op te stoot.”

4. Lae slaagvereistes. ’n Kandidaat kan op vier verskillende vlakke slaag.

* Hy of sy kan ’n nasionale seniorsertifikaat voltooi met ’n vereiste 40% vir ’n huistaal, 40% vir twee vakke en 30% vir drie vakke.

* Hulle kan slaag met die opsie vir ’n hoër sertifikaat met ’n vereiste 40% vir ’n huistaal, 30% vir ’n eerste addisionele taal, 40% vir twee vakke en 30% vir twee vakke.

* Hulle kan slaag met diplomavrystelling. Hiervoor is die vereistes 40% vir jou huistaal, 30% vir ’n eerste addisionele taal, 40% vir drie vakke en 30% vir die laaste vak.

* ’n Kandidaat kan ook slaag met universiteitsvrystelling met relatiewe lae vereistes: 40% vir ’n huistaal, 30% vir ’n eerste addisionele taal en 50% vir vier ander vakke.

Wat van dié wat uit die stelsel verdwyn?

Colditz meen dié vereistes is baie laag.

Melanie Buys, onderwysspesialis aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS), is besorg oor beperkte plek aan universiteite. “Daar is plek vir 200 000 studente in ons 26 openbare universiteite. 5% hiervan word gehou vir studente van ander Afrikalande. Nog 66 000 plekke moet gehou word vir die studente wat jaarliks hul eerstejaar druip en dit moet herhaal. Daar bly dus net 120 000 plekke oor vir die 172 000 matrieks wat met universiteitsvrystelling slaag. Dan het ons nie eens die IEB-kandidate bygetel nie.”

5. Verlore leerlinge. Luidens die departement se eie data was daar in 2007 1 141 731 geregistreerde gr. 1’s in openbare skole. Slegs 800 843 matrikulante (624 733 voltyds en 176 110 deeltyds) is geregistreer om einde 2018 hul eksamen af te lê. Slegs 512 700 voltydse en 117 660 deeltydse kandidate het volgens Motshekga al sewe vakke se eksamens afgelê. Van die leerlinge herhaal moontlik grade of het na TVET-skole verskuif, maar die res word as “verlore leerlinge” bestempel.

Die VF Plus en AfriForum is onder die groepe wat meen die matriekuitslae is misleidend weens die getal “verlore leerlinge”.

6. ‘Hekwagtery’ of ‘uitdunning’. Leerlinge word in gr. 11 teruggehou of aangemoedig om ander vakke te neem om die matriekslaagsyfer te verhoog. Skole en provinsies se syfers lyk beter as net die sterkste kandidate skryf.

Basil Manuel van Naptosa sê hy het “geen vertroue’’ in die Vrystaat se posisie as die provinsie wat die tweede beste gevaar het nie. Naptosa weet dié provinsie hou leerlinge in gr. 10 en 11 terug om ’n beter slaagsyfer te behaal.

Marchesi sê vir die Vrystaatse en Gautengse LUR’e om fees te vier, is ’n klap in die gesig van die leerlinge wat hulle gefaal het.

Dalk eerder 37,6%

Nomsa Marchesi van die DA meen die slaagsyfer is eintlik 37,6% as daar gekyk word hoeveel van die gr. 10’s van 2016 in 2018 hul matriekeksamen afgelê het.

Meer oor:  Angie Mo­Tshekga  |  Matriekuitslae  |  Matrieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.