Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Geskiedenis se vraestel 2 ‘goed gebalanseerd’

Die tweede geskiedenisvraestel het vir matrieks ’n regverdige geleentheid gegee om hul kennis en historiese vaardighede ten toon te stel.

Verlede week se eerste vraestel het op internasionale geskiedenis gefokus, terwyl Dinsdag se vraestel matrieks se kennis oor Suid-Afrikaanse geskiedenis getoets het.

Dr. Pieter Warnich, adjunkdirekteur van die Noordwes-Universiteit se skool vir besigheid en sosiale studies in onderwys, sê die moeilikheidsgraad van die brongegronde vrae was goed gebalanseerd.

Leerlinge kry brontekste waaruit hulle toepassingsvrae moet beantwoord.

“Die drie vrae het heelwat vlak 1-vrae waar die leerlinge in staat sal wees om die antwoorde uit die bronne te onttrek. Dit sal diegene wat dalk nie so goed voorbereid was nie, beslis bevoordeel. Aan die ander kant is daar ook genoegsame vlak 3-vrae wat eie kennis en interpretasie vereis en sy eie uitdagings bied,” sê Warnich.

Kandidate wat goed voorberei het, gaan baie goed doen. Die opstelvrae is baie reguit gestel en daar was geen verrassings nie.

“Vraag 2.1.2 is ’n vraag wat al in ’n vorige vraestel verskyn het, waar leerlinge moet verduidelik waarom hulle dink die Waarheid-en-versoeningskommissie eerder op herstellende geregtigheid as vergeldende geregtigheid gefokus het.”

Hy sê vraag vier, wat oor apartheid in die 1980’s handel, is billik gestel.

“Leerlinge is gevra om standpunt in te neem teenoor die stelling dat dit veral druk van internasionale anti-apartheidsorganisasies was wat tot die val van apartheid gelei het. Hulle moet dan die stelling met bepaalde historiese inhoud en ’n toepaslike argumentasielyn verdedig of weerlê. Hier sou die leerlinge net moes seker maak dat die klem geplaas word op die druk wat anti-apartheidsorganisasies uitgeoefen het en nie in die versoeking gelei word om byvoorbeeld die bydrae van bepaalde internasionale individue te bespreek nie,” sê hy.

Leerlinge moes ook vraag vyf goed lees, wat ’n kritiese bespreking vereis het oor hoe die verskillende politieke partye ’n rol gespeel het in die totstandkoming van demokrasie.

“Hulle moes nie in die slaggat val om klem te wil lê op die bydraes van politieke leiers soos Nelson Mandela en F.W. de Klerk nie,” sê Warnich.

Hy glo nie die vrae het leerlinge probeer uitvang nie en alles wat van ’n gr. 12-geskiedenisleerling verwag word, is getoets.

“Dis om onder meer sin te kan maak van die inligting in die historiese bronne; die bruikbaarheid en betroubaarheid daarvan te kan toets; die besef dat daar verskillende historiese perspektiewe en interpretasies oor ’n bepaalde historiese gebeurtenis bestaan, en om in staat te wees om krities te kan dink en ’n geldige argument te kan konstrueer.”

Hybre Schoeman, geskiedenisonderwyser vir gr. 12 by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, sê dit was ’n baie lekker vraestel.

“Kandidate wat goed voorberei het, gaan baie goed doen. Die opstelvrae is baie reguit gestel en daar was geen verrassings nie.”

Sy sê al die bronvrae het ’n verskeidenhied primêre bronne bevat, wat volgens haar goed gekies is.

“Vraag een, wat gegaan het oor die Swart Bewussynbeweging, het op Soweto gefokus en ek is baie bly daaroor, dit was regtig ’n lekker vraag en ’n goeie keuse van bronne.

“Vraestel twee was ook vir seker makliker as vraestel een, ek dink die vraagstelling was duideliker. Die vrae was reguit, daar was nie uitvangplekke wat ek kon raaksien nie, so ek dink kinders wat voorberei het, sou baie lekker skryf,” sê sy.

Meer oor:  Matriek 2020  |  Geskiedenis  |  Matriekeksamen  |  Vraestel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.