Geskiedenis is ’n vak wat ’n mens insig gee oor die hedendaagse wêreld en wat moontlik tot sekere gebeure aanleiding gegee het. Dit laat ’n mens toe om simpatie met ander te betoon.
Dit is die menig van die matrikulante aan die Hoërskool Bonnievale in die Wes-Kaap wat Donderdag die eerste vraestel in geskiedenis geskryf het.
In afdeling A moes leerlinge brongebaseerde vrae beantwoord en in afdeling B opstelvrae. Amerikaanse burgerregte, die Kubaanse missielkrisis en ’n onafhanklike Afrika was die onderwerpe van die vrae in afdeling A. In afdeling B was daar byvoorbeeld vrae oor China onder Mao Zedong en sy vyfjaarplanne, die Groot Sprong Vorentoe en die Kulturele Revolusie.
Keith Arnold sê wanneer dit by geskiedenis kom, moet ’n mens ’n liefde en passie vir leer ontwikkel.

Keith Arnold Foto: Verskaf

Lorenzia Adendorf Foto: Verskaf
“Gee jou volle aandag in die klas wanneer daar ’n les aangebied word en vra vrae indien jy enigiets nie verstaan nie. Maak ook seker dat jy jou opstelvrae so goed as moontlik beantwoord omdat jy baie punte daar kan kry.”
Keith sê die vraestel was goed opgestel.
“Ek het my amper misgis met die tyd. Drie uur was genoeg, maar ek het die tyd misbruik en amper nie met my opstelvraag klaargekry nie.”
Keith sê die vrae het ook ’n aantal kopkrappers bevat, veral waar daar van hom verwag is om sy eie kennis toe te pas.
Lorenzia Adendorf, sy klasmaat, sê die vraestel was baie maklik.
“Alles wat in die vraestel was, het ek geken omdat dit goed is wat ons basies regdeur die jaar gedoen het.”
Lorenzia sê die tyd was min omdat die vraestel baie skryfwerk vereis het, maar sy het klaargekry.
Sy hoop nou dat haar harde werk sal vrugte afwerp in die vorm van ’n onderskeiding.
Die matrieks skryf Vrydag die eerste vraestel in lewenswetenskap.