Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Herrie rondom Overvaal stuit nie 2018 se matrieks

Ondanks al die ontwrigting en die herrie wat in 2018 rondom die Hoërskool Overvaal op Vereeniging losgebars het, spog hul matriekleerlinge met ’n 99,07%-slaagsyfer en 89 onderskeidings.

Altesaam 106 matriekleerlinge van dié Afrikaansmedium-skool het hul eindeksamens afgelê in ’n jaar wat gekenmerk was deur betogings en beskuldigings van uitsluiting en rassisme.

Die Gautengse departement van onderwys het teen einde 2017 die skool verwittig dat hy 55 bykomende Engelse leerlinge moet inneem.

Sechaba Moloi van die Hoërskool Overvaal op Vereeniging was baie bly nadat hy sy uitslae gesien het.Foto: Felix Dlangamandla

Omdat die skool nie plek vir bykomende leerlinge gehad het nie, het hy ’n dringende hofbevel gevra om dit te keer, wat deur die onderwysdepartement teengestaan is.

Die departement het aangevoer dat die leerlinge toegang geweier is weens hul taalvoorkeur.

Eers het die hooggeregshof in Pretoria in die guns van die skool beslis en toe die departement hom ten einde laaste tot die konstitusionele hof gewend het vir verlof tot appèl teen die besluit, is sy aansoek met koste van die hand gewys.

Hannelie du Toit, ’n departementshoof, sê dit was nooit ’n rassekwessie soos wat almal dit probeer maak het nie. Sy glo dit is beter vir leerlinge om in hul moedertaal onderrig te word.

“Ons het ’n moeilike jaar gehad, maar ons het alles gedoen wat ons kon. Dis jammer dat een van ons leerlinge nie deur is nie. Dis die eerste keer in jare dat ons nie ’n 100%-slagsyfer gekry het nie, maar ek is trots,” sê Du Toit.

Lanisha French en Alison Moloi bekyk hul uitslae.Foto:Felix Dlangamandla

Alison Moloi (18), wat Vrydag haar uitslae by die skool gaan haal het, sê sy voel dit is ’n goeie skool en as nog kinders na die skool gekom het, sou dit moeilikheid veroorsaak het.

“Almal wat hier is, is genoeg vir die skool. Daar is nie veel plek vir ander kinders nie en daar is baie min Afrikaanse skole in Suid-Afrika. Die skool moet bly soos wat dit is.”

Sy sê dit was vir haar glad nie moeilik om in ’n Afrikaanse skool aan te pas nie. “Ek het met Afrikaans begin toe ek nog in gr. R was. So dit was nie so moeilik nie.”

Sy sê baie mense van buite was mislik teenoor haar omdat sy as ’n swart persoon op Overvaal skoolgegaan het.

“Ek het tussen wit mense grootgeword. Ek is gewoond aan hulle. Hulle is lief vir my . . . so dit was vir my nie so moeilik nie.”

Martha Maiane (18)Foto: Felix Dlangamandla

Moloi sê om te fokus en te bid het hulle deur die moeilike jaar gehelp.

Sy gaan vanjaar onderwys aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) of die Noordwes-Universiteit (NWU) studeer.

Martha Maiane (18) sê sy voel die skool het verlede jaar se ontwrigtings baie goed hanteer. “Alles het uitgewerk soos wat dit moes.”

Maiane het onderskeidings in Engels eerste addisionele taal en lewensoriëntering gekry.

Sy sê hoewel sy nie Afrikaanssprekend is nie, was dit nie ’n groot uitdaging om in ’n Afrikaanse skool te wees nie omdat sy Afrikaans grootgeword het. “Ek het nie gevoel asof ek anders is nie of dat ek moes aanpas nie. Ek het soos almal gevoel.”

Maiane gaan vanjaar regte aan die UV studeer.

Die drie toppresteerders van die Hoërskool Overvaal is van links Shimone Bridges, Chelene Alberts en Carla Monét Schoeman, verlede jaar se hoofmeisie.. Foto: Felix Dlangamandla

Carla Monét Schoeman (18), voormalige hoofmeisie, sê wat verlede jaar gebeur het, was uitdagend, maar hulle het altyd geweet hulle sal sterker anderkant uitkom.

“Ons het gesê as dit sou verander, dan sal ons dit hanteer. Ons het gesê ons sal nie mense wegstoot nie en ons sal hulle deel maak van ons skool.”

Sy sê hulle het ’n positiewe houding daaroor gehad en dit het haar leierskap getoets. “Ek moes steeds vir die kinders wys hulle hoef nie bang te wees nie en dat dit nie so erg is nie.”

Schoeman sê hulle het juis die skool gekies omdat dit enkelmedium is, maar sou aangepas het omdat dit ’n klein skool is.

Sy is een van die toppresteerders en het sewe onderskeidings gekry. “Ek is in die wolke. Ek kon dit nie glo nie. Ek het geleer, maar dit was ’n moeilike jaar.”

Sy gaan vanjaar aptekerswese aan die NWU studeer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.