Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Uitgelekte vraestelle: ‘Herskryf is die beste besluit’

Al is dit onregverdig dat alle matrieks twee uitgelekte eindeksamenvraestelle moet oorskryf, sê kenners onder die omstandighede is dit die beste besluit.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Vrydag aangekondig die raad van onderwysministers het besluit die tweede wiskundevraestel en tweede fisiese wetenskap-vraestel moet landwyd op onderskeidelik 15 en 17 Desember herskryf word.

Omdat die vraestelle digitaal rondgestuur is, was dit volgens Motshekga nie moontlik om die volle omvang van die verspreiding te bepaal nie.

Rolspelers in die onderwyssektor sê dis jammer dat onskuldige matrieks benadeel word, maar ’n herskryf is die beste opsie.

Dr. Jaco Deacon, adjunk- uitvoerende hoof van die Federasie van Suid-Afrikaanse Beheerliggame (Fedsas), sê ter wille van die eksamen se geloofwaardigheid, ondersteun hulle Motshekga se besluit.

“As daar ’n wolk oor die geloofwaardigheid van die eksamen en die uitslae hang, is dit op lang termyn beter vir alle leerlinge,” sê hy.

“Ek verstaan die penarie waarin die minister was. Sy het nie veel ander keuses gehad nie. Ons het vergader en sy was self ontsteld en jammer vir die kinders, maar haar taak is om seker te maak dié gr. 12-sertifikaat is die papier werd waarop dit gedruk word.”

Ek verstaan die penarie waarin die minister was. Sy het nie veel ander keuses gehad nie. Ons het vergader en sy was self ontsteld en jammer vir die kinders, maar haar taak is om seker te maak dié gr. 12-sertifikaat is die papier werd waarop dit gedruk word.

Deacon sê dis positief dat die departement verseker het die datum waarop die matriekuitslae bekend gemaak word, is nie weens die herskryf-sessies uitgestel nie.

Dr. Francois Naudé, onderwyskonsultant en navorsingsgenoot aan die Universiteit van Johannesburg, stem saam ’n landwye herskryf is die enigste opsie.

“Die probleem is dat die eindeksamen te veel gewig dra ten opsigte van leerlinge se prestasie of bevordering. Universiteitstoelating, keuring vir sekere studierigtings en die beperkte plek wat daar is vir sekere studierigtings is, word alles deur ’n eksamen soos dié beïnvloed,” sê hy.

“Juis omdat dit twee vakke is wat baie gewig dra tot die keuring vir baie van die universiteitsgrade, kan ’n mens nie anders as om die vraestelle nasionaal oor te skryf nie.”

Naudé het wel vrae oor die nuwe vraestelle.

“Watter vraestel gaan hulle skryf en wie stel dit op? Kon hulle met integriteit op kort kennisgewing ’n vraestel opstel wat betroubaar en geldig is? Matriekeksamenvraestelle vat maande om op te stel en gemodereer te word.”

Hy sê dis sleg vir matrieks wat reeds ’n moeilike jaar agter die rug het.

“Wiskunde en fisiese wetenskap is vakke waaroor leerlinge meer angstig is, so om nou weer daardie vraestel te gaan skryf, gaan baie uithouvermoë verg. Hulle moet nou weer die bul by die horings pak en die vorige vraestelle as ’n oefenlopie beskou.”

Volgens Naudé lê die groter probleem by ’n onderwysstelsel waarin daar soveel op die spel is in ’n enkele eksamen.

“Die stelsel is uitgeleef, ons kan nie meer net fokus op high stake-eksamens om te bewys kinders is bevoeg vir die werkplek en verdere studies nie,” sê hy.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) verwelkom Motshekga se “ferm optrede”.

Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS, het skoolgemeenskappe gevra om Motshekga te ondersteun en leerlinge te motiveer om die geleentheid aan te gryp en selfs beter te presteer as vroeër.

Die VF Plus sê om die besluit te verwelkom, is soos om ’n ambulans te verwelkom.

“As daar nie ’n ramp was nie, was dit nie nodig nie. Die emosionele impak daarvan om aan die einde van die eksamen weer te gaan sit, boonop vir van die moeilikste vraestelle van die jaar, moet nie onderskat word nie,” sê dr. Wynand Boshoff, woordvoerder.

“In werklikheid beleef matrikulante vanjaar iets wat in die ‘grootmenswêreld endemies is: ’n Klein groepie wat oneerlik optree en óf daarmee wegkom, óf die lewe vir almal anders verontrief,” sê Boshoff.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die onderwysvakbond Naptosa, is teleurgesteld oor die besluit.

“Ons was gekant teen ’n algehele herskryf en meer ten gunste daarvan dat selektiewe leerlinge weer skryf. Ons het die kommer oor die integriteit van die eksamen gehoor en dat dit as rede vir die herskryf voorgehou word, maar ons is nie oortuig nie.

“Ons lede is gespanne, leerlinge is gespanne, en daar word hiermee baie van kinders, onderwysers en die stelsel verwag,” sê hy.

Brian Schreuder, hoof van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het in ’n verklaring vir begrip oor die buitengewone omstandighede gevra.

“Uiteindelik is dit in die belang van regverdigheid teenoor alle kandidate.”

Hy sê skoolhoofde en personeel by eksamensentrums gaan beïnvloed word en dat die reëlings vir die twee sessies nader aan die tyd gekommunikeer sal word.

Die tweede wiskundevraestel is voor 16 November se eksamensessie na leerlinge in minstens agt provinsie versprei. Themba Daniel Shikwambana (31), ’n werknemer van ’n maatskappy in Johannesburg wat gekontrakteer is om die vraestelle te druk, is in verband met die beweerde diefstal van dié vraestel in hegtenis geneem.

Die fisiese wetenskap-vraestel van 23 November is ook uitgelek, maar die omvang was volgens die onderwysdepartement kleiner.

Volgens Motshekga was daar gerugte dat ’n besigheidstudies-vraestel ook uitgelek is, maar die departement kon die vraestel voor die sessie vervang. Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van die departement, sê hulle was vanjaar om verskeie redes met ’n tweede vraestel vir elke vak gereed.

Lees ook:

* Matrieks omgekrap oor herskryf van vraestelle in 'jaar sonder einde'

* Skok oor vraestelle wat oorgeskryf moet word

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.