Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Juffrou, matrieks slaap in klasse vir beter punte

’n Hoogspringmat slaap glad nie so sleg as jy in die proses met jou skool se matriekslaagsyfer geskiedenis maak nie.

’n Onderwyser uit die Namakwa-distrik het haar bed weke lank vir ’n hoogspringmat verruil om die skool se matriekslaagsyfer “uit die rooi” te kry.

Margareth Cloete (59), ’n onderwyser by die Hoërskool SA van Wyk in Bergsig, Springbok, en 22 matrieks het vir die duur van die eindeksamen op die skoolterrein gewoon.

cloete
Margareth Cloete Foto: Verskaf

Cloete, wat al meer as drie dekades aan dié skool verbonde is, sê sy wou met die inisiatief gunstige leertoestande skep, omdat baie van die leerlinge uit moeilike omstandighede kom.

Die leerlinge vertel hoe dit in die omgewing tuis raas en hulle moet wag totdat dit stil is voordat hulle kan studeer, sê dié onderwyser in lewensoriëntering.

“Ons skool was die afgelope drie jaar ’n ‘rooi’ skool – die matriekuitslae was nie goed nie.”

Sy was vasberade om die uitslae te verbeter en sy en al 38 matrieks het tydens die Junie-eksamen vir die eerste keer by die skool geslaap.

Al 38 het toe die Junie-eksamen geslaag. Tydens die September-eksamen kon niemand by die skool oornag nie en 15 leerlinge het gedruip.

Cloete sê leerlinge was gretig om vir hul eindeksamen by die skool te oornag toe hulle weer die opsie gebied is.

Ongebruikte klaskamers is vir slaapplek met matrasse en beddens van die leë koshuis, asook hoogspringmatte, ingerig. Ander klasse is vir studie gebruik.

En so is die rooi uitgewis.

Die ongebruikte klaskamers wat vir slaapplek ingerig is. Foto: Facebook/ Veronica van Dyk

Sy het aanhoudend gehuil toe sy die matriekuitslae ontvang.

Al die leerlinge wat daar geleer het, het geslaag en die matriekklas het ’n slaagsyfer van 80,6% behaal – 21,5% hoër as in 2018.

“Dié klas het ons uit die rooi gehaal, hulle het die skool se geskiedenis herskryf,” sê Cloete.

“Vir my is dit weer ’n bewys dat ek die kinders telkens moet motiveer om by die skool te slaap en te studeer.

“Eintlik was ek maar net daar vir hulle as ’n ma.”

Sy het vir hulle kos gemaak, hulle op hul versoek snags wakker gemaak om te leer en gesorg vir koffie en beskuit. Kos het ook uit die gemeenskap gekom.

Cloete sê 2019 se matrieks is baie verantwoordelik.

Sy het ook vir hulle ’n studierooster uitgewerk, leermateriaal verskaf en die onderwysers van die onderskeie vakke ’n draai laat maak.

Die ingang by die Hoërskool SA van Wyk in Bergsig, Springbok, in die Noord-Kaap. Foto: Verskaf

Danelle Groenewald, wat fisiese wetenskap aanbied, was ook elke aand saam met haar by die leerlinge.

Cloete benadruk dit was ’n skoolpoging en sy het die skool én die streekskantoor se steun gehad.

Sy het eers op ’n matras geslaap, maar toe sy hoor hoe lekker die hoogspringmatte slaap, het sy dit probeer.

“Dit slaap regtig baie lekker.”

Raydin Dyers sê dit was ’n wonderlike ervaring. Hy het universiteitstoelating.

Hy en sy klasmaats sal Cloete ewig dankbaar wees.

“Ons het nie regtig gedink onderwysers sal soveel omgee dat hulle hul huis met alle geriewe los om kinders te help nie.

“Ons is almal lief vir die juffrou.”

Lucius Saul sê hulle sou nie soveel vermag het as hulle by die huis moes leer nie. Dit is rustiger by die skool en Cloete het hulle gemotiveer om hard te leer. Sy is vir almal ’n steunpilaar en rolmodel, sê hy.

Die Noord-Kaapse onderwysdepartement het Cloete ook lof toegeswaai omdat sy die ekstra myl geloop het.

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Springbok  |  Matriekeindeksamen  |  Matriekuitslae  |  Eindeksamen  |  Matriekslaagsyfer  |  2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.