Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Kenners meen slaagsyfer is beter as verwag

Onderwyskenners en -vakbonde is dit eens dat die matriekslaagsyfer beter is as wat hulle verwag het.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Maandag aangekondig dat 2020 se matrikulante ’n slaagsyfer van 76,2% behaal het.

Motshekga sê hoewel dit 5,1% laer as 2019 se slaagsyfer van 81,3% is, is dit steeds indrukwekkend as die uitdagings van die inperkings en die Covid-19-pandemie in ag geneem word.

“Ek is dankbaar, want ek het ’n bloedbad verwag. Die matrieks het egter bewys dat hulle op hul eie voete kon staan.”

Kenners en vakbonde het ook ’n veel groter daling in die slaagsyfer verwag.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê in ’n verklaring die matrieks het, gegewe die omstandighede, uitsonderlik presteer en dat veral ook die onderwysers lof hiervoor verdien.

“Dit is ook betekenisvol dat Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, min punte aangepas het. Die onverwerkte punte van 48 vakke (74%) is aanvaar, nege is opwaarts en agt afwaarts aangepas. Dit toon duidelik dat die gehalte van die nasienwerk en dié van die eksamenvraestelle op standaard was. Fisiese wetenskap se onverwerkte punte is aanvaar en dit teen die agtergrond dat ernstige onreëlmatighede ten opsigte van dié vak vermoed is.”

Hy sê hoewel die slaagsyfer laer as in 2019 is, het 440 702 leerlinge geslaag, wat 31 305 meer is as in 2019. “Die feit dat 198 907 leerlinge universiteitsvrystelling gekry het, dui daarop dat die klas van 2020 werklik hard gewerk het.”

Volgens Motshekga het universiteitsvrystellings van 36,9% in 2019 tot 36,4% in 2020 gedaal.

Prof. Nadine Petersen, adjunkhoof van onderrig en leer in die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit van Johannesburg, sê die slaagsyfer dui op die toegewydheid van leerlinge, onderwysers en die onderwysdepartement.

“Dit wys net weer hoe veerkragtig ons is: As ons rûe teen die muur is, kan ons saamstaan om bo uit te kom.”

Petersen sê van die punte is wel opwaarts aangepas, “maar dit is belangrik om te meld dat dit nie in vakke soos wiskunde, wiskundige geletterdheid, rekeningkunde, wetenskap en aardrykskunde was nie. Dit is die vakke wat leerlinge gaan nodig hê om ’n sukses te maak van hul universiteitsloopbaan en waarmee hulle die nodige vaardighede gaan kry om ons land vorentoe te neem”.

Die onderwysvakbond Naptosa sê in ’n verklaring die slaagsyfer is “bo verwagting goed en hoewel dit gepas is om die onderwysdepartemente geluk te wens, is dit ons onderwysers wat die eerbewyse verdien”.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, verwelkom ook die slaagsyfer. Sy sê hulle is egter wel bekommerd oor die minstens 30 000 matrikulante wat hulle aan die begin van die jaar ingeskryf het, maar nie die eindeksamen geskryf het nie.

“Dit is iets wat ’n langtermyneffek gaan hê en nie sommer in ’n jaar opgelos kan word nie. Ons sal die kinders moet gaan haal,” sê Buys.

Prof. Michael le Cordeur, hoof van die departement kurrikulumstudie van die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, stem nie met die res van sy kollegas saam nie, en sê hy is geskok dat die slaagsyfer so baie gedaal het. “Ons het ’n daling verwag, maar nie so ’n groot een nie en ook nie in al nege provinsies nie.”

Hy sê die feit dat die Noord-Kaap die swakste uit al die provinsie presteer het (wat die slaagsyfer betref), “wys op die ongelykhede in ons onderwysstelsel. Skole in stedelike gebiede soos Gauteng presteer baie beter as skole in landelike gebiede.”

Hy sê dat die onderwysdepartement moet hieruit leer en dié lesse vanjaar toepas.

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Uitslae  |  Slaagsyfer  |  Matriekeksamen  |  Eksamen  |  Matriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.