Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Kompetisie gee studente groot hupstoot

Altesaam 25 matrikulante van oor die land heen sal deelneem aan die 40ste Matrikulant van die Jaar-kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad en gaan vanjaar weer voordeel trek uit die Kovsie Alumni-trust se borgskap van R100 000.

Volgens Esmé Aucamp van die Kovsie Alumni-trust lok hierdie kompetisie die room van die land se matrikulante na die UV. “Dit is tot voordeel van die UV om goeie studente te kry, maar dit is ook tot voordeel van die leerlinge as ’n mens na die tyd sien wat die kompetisie vir hulle beteken. Die trust se betrokkenheid is ’n belegging in goeie studente.”

Die Kovsie Alumni-trust is al vir baie jare as borg betrokke by die Matrikulant van die Jaar-kompetisie. Van links is Diana Mouton, Esmé Aucamp van die Kovsie Alumni-trust, Dano Sadie en Mandie de Wet.Foto: SISKA MARTIN

Aucamp, ook die sameroeper van die beoordelaars, sê die UV bied puik opleiding en Kovsies is ’n goeie omgewing om in te studeer. “Hier is studente nie net nommers nie soos wat dikwels die geval op groter kampusse is.”

Met die finale beoordeling wanneer die 14 topfinaliste in Bloemfontein saamtrek, maak die studente reeds vriende en hulle ontmoet ook van die senior studente. So voel hulle nie so vreemd wanneer hulle hier aanmeld vir hul eerste jaar nie.

“Selfs die organiseerders wat by die kompetisie betrokke is, raak soos familie en is steunpilare vir die studente,” sê Aucamp.

Drie finaliste van 2019, Mandie de Wet, Diana Mouton en Dano Sadie, is dit eens dat dit hulle baie gehelp het om reeds klasmaats en seniors te ken toe hulle verlede jaar aangemeld het vir hul mediese studies.

“Dit het my selfvertroue ’n hupstoot gegee en dit was lekker om vorige finaliste te ontmoet,” sê de Wet, ’n boorling van Graaff-Reinet wat aan die Meisieskool Oranje gematrikuleer het, oor haar deelname aan die kompetisie.

Vir Sadie, ’n matrikulant aan die Hoërskool Oosterland in Secunda, het sy deelname en aanwys as finalis ’n rigtingverandering teweeggebring. “Ek was glad nie seker dat ek Kovsies toe wou kom nie, omdat Pretoria nader aan my ouerhuis is.”

Mouton het ook danksy die kompetisie besluit om Bloemfontein toe te kom. Ook vir dié matrikulant van die Hoërskool Frankfort sou Pretoria nader wees, maar die pryse wat sy as finalis ontvang het, het die besluit vir haar makliker gemaak.

Goed gebalanseerde matrikulante van oor die land heen kan hulle nou vir die Matrikulant van die Jaar-kompetisie inskryf. Leerlinge wat in akademie presteer, asook betrokke is by kultuur, sport en leierskap aan hul skole, staan die beste kans om in dié kompetisie met pryse ter waarde van duisende rande uit te blink. Gemeenskapsdiens en -betrokkenheid sal ook in aanmerking geneem word.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 6 Augustus.

Vir inskryfvorms of meer inligting, stuur e-pos aan Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.