Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
KYK: Leeuemoed laat Francois triomfeer

As jy weet jy gaan teen 40 in ’n rolstoel wees, dan lewe jy elke dag ten volle. Só sê Francois Coetzer (18), ’n voormalige matrikulant aan die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg.

Francois Coetzer (18) verduidelik dat die tatoe op sy voorarm ter nagedagtenis aan sy pa is. Sy pa is dood toe Francois nege jaar oud was. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Spierdistrofie is reeds op vier jaar by Francois gediagnoseer. Dokters voorspel dat hy teen 40 in ’n rolstoel gaan wees. “So vir nou maak ek seker ek geniet elke dag en probeer om my spiere sterk te hou.”

Op negejarige ouderdom is sy pa in ’n motorongeluk dood en sy ma moes hom en sy boetie, Kian (16), alleen grootmaak.

“Sy dood was moeilik. Dit is nog steeds,” sê Francois. “Ons het altyd saam gholf gespeel en hy het ons by die skool gaan af- en oplaai.”

Verlede jaar het hy ’n tatoe ter herinnering aan sy pa op sy voorarm laat aanbring. Sy pa se dood was egter net een van die uitdagings wat hy te bowe moes kom.

In 2018, toe hy in gr. 11 was, is Francois erg oor sy distrofie geboelie. “Hulle het my gespot omdat ek snaaks loop. Dit het so ver gegaan dat hulle foto’s van my Instagram-blad gaan kry het en in my sluitkassie geplak het met beskuldigings dat ek steroïede gebruik,” onthou hy.

Dit het vir hom so erg geword dat hy in Oktober daardie jaar weens ’n senuwee-ineenstorting in die hospitaal opgeneem is.

“Toe ek daar wakker word het ek alles vergeet. Ek kon basies net my ma, pa en boetie onthou. Alles het gelukkig stadig begin terugkom.”

Dit het ’n geweldige uitwerking op sy skoolwerk gehad, maar hy het nie moed opgegee nie en steeds gr. 11 geslaag.

Tydens sy skoolloopbaan was Francois ook deel van die bestuurspan vir die eerste rugbyspan. “Ek is baie lief vir sport. Weens die siekte moes ek in gr. 6 ophou deelneem aan sport, maar ek speel nog gholf,” sê hy.

“As ek nie my passie op die veld kan uitleef nie, dan wil ek dit graag steeds langs die veld doen,” sê hy en beplan om vanjaar sportbestuur aan die Universiteit van Johannesburg of Eta-kollege te studeer.

Sy ma is vir hom ’n steunpilaar en het hom nog altyd bygestaan. “Die skool was ook altyd baie behulpsaam. Ek wou eers nie Helpmekaar toe gaan nie oor die baie trappe en heuwels, maar die onderwysers het my gehelp en aangemoedig om my matriek daar te voltooi.”

Francois het matriek geslaag met toegang tot graadstudie. 

Meer oor:  Johannesburg  |  Matriek2019  |  Matriekeksamen2019  |  Matrieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.