Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
KYK: Menlopark se matrieks reg vir grootmenswêreld

Leerlinge van die Hoërskool Menlopark in Pretoria wat in 2018 matriek geslaag het, is gereed om die grootmenswêreld aan te durf.

Hulle het Vrydag van vroeg af by die skool opgedaag in afwagting op hul matriekuitslae.

Spring vir sukses! Hierdie leerlinge van die Hoërskool Menlopark in Pretoria is uiteindelik klaar met skool nadat hulle Vrydag hul uitslae gekry het. Dié wat spring, is van links Ruard Muller, Henco Botha, Liam Middleton, Charl Botes en Dalton Ndhlovu; agter: Nicole Barwise, Antonia Evangelou, Danielle Pitout, Mariané Oberholster, Lezan-Mari Pieterse en Embeth du Toit. Foto: Ischke de Jager

Lucy Strydom sê sy is baie tevrede met haar uitslae en “kon nie vir beter vra nie”. Dié meisie, wat verlede jaar kaptein van die Suid-Afrikaanse o.18-netbalspan was, het drie onderskeidings behaal.

Sy is op ’n toernooi in Australië aangewys as die gesogste netbalspeler.

“Die eksamen het sy ups and down en rillers gehad waar jy tot laat in die aand moes leer, maar ek dink ek het ’n lekker eksamen gehad,” sê Lucy.

Hoewel sy die tweede wiskunde-vraestel baie moeilik gevind het, spog sy met ’n gemiddeld van 80% vir dié vak.

“Ek weet nie hoe dit moontlik is nie, maar ek dink my gebede is definitief verhoor,” sê Lucy.

Sy gaan aptekerswese aan die Noordwes-Universiteit studeer en gaan ook netbal speel vir die universiteit.

Lucy Strydom van die Hoërskool Menlopark in Pretoria is tevrede met haar drie onderskeidings. Foto: Ischke de Jager

Nicole Barwise en Mariané Oberholster het onderskeidelik sewe en nege onderskeidings verower.

“Ek is baie opgewonde oor my onderskeiding vir wetenskap,” sê Nicole, wat nog besluit of sy biologiese of aktuariële wetenskap wil studeer.

Mariané sê sy het nie noodwendig vir die eindeksamen harder geleer as die vorige eksamens nie.

“Jy kan nie net met die laaste eksamen begin leer nie, dit is ’n konstante ding wat met die jare kom,” sê sy.

Mariané gaan ’n oorbruggingsjaar neem, waartydens sy praktiese ondervinding in verskeie velde gaan opdoen en met mense gaan gesels om uit te vind waarvan sy hou.

Nicole Barwise (links) en Mariané Oberholster van die Hoërskool Menlopark in Pretoria het onderskeidelik sewe en nege onderskeidings verwerf. Foto: Ischke de Jager

Dalton Ndhlovu sê hy is tevrede met sy uitslae nadat hy vir hierdie eksamen harder geleer het as vir die voriges.

“Hierdie punte maak saak,” sê hy.

Dalton wil vanjaar op ’n boot in Frankryk gaan werk.

Dalton Ndhlovu van die Hoërskool Menlopark in Pretoria sê hy was gemotiveerd om hard te leer.Foto: Ischke de Jager

Tunet Trumpie, 2018 se hoofmeisie van die Hoërskool Menlopark, en Dricus Oerlemans, ’n voëlboer, het vir al hul vakke onderskeidings gekry. Tunet spog met nege A’s en Dricus met tien.

Tunet sê sy het deurlopend hard gewerk in die jaar.

“’n Mens kan nie net aan die einde van die jaar hard leer nie, maar as ’n mens deur die jaar werk, dan maak dit dinge soveel makliker aan die einde van die jaar,” sê sy.

Dricus sê dit is belangrik om jouself te ken en te weet in watter vakke jy goed presteer en in watter nie, sodat jy weet watter vakke meer aandag verg. Hy sê ook dit help baie om vir elke vak sy eie leermetode uit te werk.

Hy gaan veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria (UP) studeer, en Tunet gaan BCom aktuariële wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

Tunet Trumpie, hoofmeisie van die Hoërskool Menlopark in Pretoria in 2018, en Dricus Oerlemans, ’n voëlboer, bekyk mekaar se matriekuitslae. Foto: Ischke de Jager

Eben Benadé het sewe onderskeidings behaal, waarvan fisiese wetenskap sy beste vak is met 96%.

“Doen jou huiswerk, leer elke dag,” is sy resep vir sukses.

“As jy in die klas is en wakker is en luister na die onderwysers, lê dit die grondslag vir jou om te weet wat aangaan wanneer jy huiswerk doen.”

In die eindeksamen was Eben gemotiveerd om sy potensiaal te bereik. Hy gaan rekenaaringenieurswese aan die UP studeer.

Eben Benadé van die Hoërskool Menlopark in Pretoria het ’n gemiddeld van 91,3% behaal. Foto: Ischke de Jager

Intussen sê Kate de Wet, dux-leerling van die Hoërskool Linden in Johannesburg, ’n gebalanseerde lewe is die sleutel tot sukses in matriek.

“Om deurlopend te werk, die heeltyd konsekwent te wees en nie moed op te gee nie, is belangrik, maar dit is ook belangrik om jouself nie te ooreis nie. Wees gebalanseerd en luister na jou liggaam,” sê sy.

Kate sê sy het slapelose nagte gehad voor die bekendmaking van die matriekuitslae. “Ek dink nie ek het een enkele aand voor 01:00 gaan slaap nie. Ek het die heeltyd wakker gelê, maar ek is baie tevrede. Ek het meer gekry as wat ek verwag het,” sê sy.

Kate de Wet van die Hoërskool Linden in Johannesburg wys haar naam uit in die skoolsaal. Foto: Simon Sonnekus

Sy hoop om vanjaar keuring te kry om medies te studeer.

“Ek hoop ek word gekeur met my punte. Ek is by talle universiteite op die waglys, maar hopelik gee hierdie vir my ’n hupstoot. Indien nie, sal ek voortgaan met BSc biomediese wetenskap,” sê sy.

Sy het haar goeie punte met ’n ontbyt gevier en sal binnekort met al haar vriende saamkuier om hul uitslae te vier.

“Hierdie is nie net ’n mylpaal vir my nie, maar vir almal wat geskryf het,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.