Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
KYK: Uitdagings keer dié matrieks nie om te presteer

2019 se uitdagings en vrese het nie in die pad gestaan van Crawford College in Pretoria se matrieks wat die eindeksamen van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) afgelê het nie.

Ondanks die moeilike tyd wat Alicia Kotzé (18) gedurende die eindeksamen moes deurmaak, is sy as die kollege se dux-leerling vir 2019 aangewys.

Kanker is in dié tyd by haar ma, Martie (45), gediagnoseer.

“Dit het baie van my planne verander. Ek het meer tyd saam met haar deurgebring, want dit was vir my belangrik. Dit was my keuse en niemand het gevra dat ek my werk afskeep nie – ek sou dit nie anders wou doen nie,” sê Alicia.

“Crawford het ’n baie goeie ondersteuningsraamwerk en die onderwysers was altyd daar vir ons en het my bygestaan soveel hulle kon. Hulle het my altyd uitgevra om seker te maak ek is oukei. Ek sal dit mis.”

Alicia Kotzé (18), Crawford College in Pretoria se dux-leerling vir 2019, en haar ma, Martie (45), kyk na haar matriekuitslae. Kanker is in Alicia se eindeksamen by haar ma gediagnoseer maar sy het steeds agt onderskeidings behaal. Foto: Deaan Vivier
Alicia Kotzé (18), Crawford College in Pretoria se dux-leerling vir 2019, en haar ma, Martie (45), kyk na haar matriekuitslae. Kanker is in Alicia se eindeksamen by haar ma gediagnoseer maar sy het steeds agt onderskeidings behaal. Foto: Deaan Vivier

Sy het agt onderskeidings met ’n gemiddelde van 89,85% behaal en gaan vanjaar medies studeer, maar sy is nog nie seker waar nie.

“Ek sien regtig uit daarna om verder te studeer. Vandat ek agt jaar oud was, wou ek medies studeer. Dit is vir my lekker om nuwe dinge te leer,” sê Alicia.

Martie is baie trots op haar dogter en sê dat Alicia ondanks haar siekte goed presteer het.

“Soms was dit moeilik, maar sy is beginselvas,” sê Martie.

Haar boodskap aan ander ouers is: Laat jou kind wees wie hulle wil wees; die resultate sal vanself kom.

Met sewe onderskeidings is Leiya Bookhan (18) baie verlig. Sy was bang dat sy nie sou slaag of universiteitstoelating sou kry nie, en gevolglik werkloos sou wees.

“Ek kan nie glo ek het geslaag nie. Ek is net so gelukkig,” sê sy.

Leyia Bookhan, Daiwon Kim, Alicia Kotzé, Cindy Lai en Ruan Strydom (almal 18) van Crawford College in Pretoria spring in die lug met die uitslae wat hulle in die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se matriekeindeksamen behaal het. Foto: Deaan Vivier
Leyia Bookhan, Daiwon Kim, Alicia Kotzé, Cindy Lai en Ruan Strydom (almal 18) van Crawford College in Pretoria spring in die lug met die uitslae wat hulle in die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se matriekeindeksamen behaal het. Foto: Deaan Vivier
Verlede jaar se matrieks van Crawford College in Pretoria is baie verlig oor hul matriekuitslae. Foto: Deaan Vivier

Sy gaan meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Uitdagings waarmee sy gedurende die jaar moes worstel, is die hoë werklading en die stres wat daarmee gepaardgaan.

“Matriek was baie moeiliker as gr. 11,” sê sy.

Leiya hoop om haar eerste jaar op universiteit met onderskeidings te slaag.

“Ek is nie seker oor die toekoms en wat dit vir my inhou nie. Ek hoop net ek vaar goed en dat dit nie nodig sal wees om van kursus te verander nie.”

Nkomati Mashabane (18) van Crawford College in Pretoria glimlag breed terwyl hy na sy eindeksamenpunte kyk.Foto: Deaan Vivier

Nkomati Mashabane (18) het baie hard gewerk en voel goed oor die vier onderskeidings wat hy behaal het.

“Ek het baie hard gewerk en is tevrede dat die resultate dit wys,” sê hy.

Nkomati sê dat nie al sy toetsuitslae deur die loop van die jaar goed was nie, en dat dit hom effens bekommer het.

“Ek was ontmoedig, gegewe hoeveel werk ek sou moes insit en weens die druk op my om te presteer. Om onvoorbereid te voel wanneer ek baie gedoen het en steeds te voel dit was nie genoeg nie – dit was my grootste vrees.”

Hy gaan megatronika-ingenieurswese studeer, maar hy droom groter.

“Ek wil iemand wees wat ander inspireer om beter te vaar. Dit is ’n eer om ander te inspireer, en ek wil dit kan doen,” sê hy.

“Dit was tot dusver nie maklik nie, maar ondanks die struikelblokke wat ek moes oorkom, wil ek vir ander ’n voorbeeld wees.”

Meer oor:  Matriekeindeksamen  |  Matrieks 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.