
Van links is Cara Wijnbeek, Andrea Olivier, Marco Venter, Danielle Hughes en Wilna Malan. Foto: Melinda Stuurman
Lewenswetenskap vraestel een was vir matrikulante van die Hoërskool Dr. E.G. Jansen in Boksburg op standaard.
Netwerk24 het Vrydagmiddag met ’n groep matrikulante gepraat nadat hulle die vraestel klaar geskryf het.
Wilna Malan sê dit was vir haar gemiddeld.
“Daar was vrae wat ’n mens kon doen en ook hoëgraad-vrae.
Ek dink dit was op standaard. Die eksperiment was uitdagend, want jy moes aflei wat die petroleumjellie doen en wat die agarjellie doen. Ek is baie bly oor die langvraag. Dit het gehandel oor die temperatuurregulering en koolstofdioksied wat die makliker afdelings was,” sê sy.
Andrea Olivier sê sy is dankbaar die vrae oor die oog, oor en brein is maklik gevra.
“Die eksperiment was moeilik en dit het goed gegaan met die langvraag. Alles wat ek verwag het, is gevra. Dit was lank, maar lekker,” sê Andrea.
Danielle Hughes sê die vraestel was op standaard en goed gebalanseerd.
“Daar was 50% maklike vrae wat ons self kon interpreteer en wat ons geleer het deur die loop van die jaar. Die eksperiment was baie moeilik. Ek het net gewens ek het die oor meer in diepte geleer, asook die interpretasievrae,” sê sy.

Matrikulante verlaat die eksamenlokaal. Foto: Melinda Stuurman
Cara Wijnbeek sê sy dink dit het goed gegaan.
“Dit was nie moeilik of maklik nie. Ek het ietwat gesukkel met die kortvrae en daar was nie regtig uitvangvrae nie,” sê Cara.
Marco Venter sê hy is bly hy kon goed voorberei en werk aan die vrae waarmee hy gesukkel het gedurende die rekordeksamen. Hy kon dit vandag regkry. Hy sê egter daar was uitvangplekke. “Ons almal stem saam oor die brein en die oor. Dit is moeilike werk,” sê hy.
Matrikulante skryf Maandag lewenswetenskap vraestel twee.