Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Lof, kritiek oor matriekuitslae

Hoewel die matriekklas van 2020 beter gevaar het as wat verwag is, moet die regering pa staan vir sy rol in die ontwrigting wat verlede jaar tot die swakker matriekslaagsyfer gelei het.

Dít is die reaksie van politieke partye en organisasies nadat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Maandag die matriekuitslae van 2020 heelwat later as gewoonlik bekend gemaak het.

Motshekga het almal bedank oor die daling van net meer as 5 persentasiepunte in die slaagsyfer omdat sy eintlik “ ’n bloedbad verwag het”.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys Foto: GCIS

Sy sê weens die sluiting van skole het 2020 se matrieks ’n kwartaal van skool gemis. Hulle kon nie al die verlore tyd inhaal nie.

Tog het sy gesê die “gehalte” van die uitslae is beter aangesien meer matrieks vergeleke met die vorige jaar onderskeidings en universiteitsvrystelling gekry het.

Mkhuleko Hlengwa, hoof van die IVP in die parlement, sê die departement van onderwys moet verantwoordelikheid neem vir sy gebrek aan beplanning en mislukkings tydens die inperking.

Volgens hom is duur lesse geleer oor hoe die afgelope skooljaar tydens die Covid-19-pandemie bestuur is.

“Tog is ons in die geheel tevrede met die uitslae en ons wens ook die leerlinge geluk wat geslaag het onder uitdagende omstandighede, sowel as die onderwysers wat hulle gehelp het,” sê Hlengwa.

Natasha Venter, bestuurder vir onderwysregte by AfriForum, het in ’n verklaring teen die departement uitgevaar en gesê die onnodige sluit van skole vir lang tye, die gebrek aan beskermende toerusting en die kwessie van twee uitgelekte vraestelle tydens die eindeksamen het tot die swakker prestasie bygedra.

Dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor onderwys, wat ook ’n swakker slaagsyfer verwag het, het Motshekga se aankondiging verwelkom dat die aantal onderskeidings verbeter het.

“In die skole wat goed gevaar het, is onderrig ernstig opgeneem, ouers en onderwysers het saamgewerk en daar was minder staatsinmenging,” sê hy.

Hy steun dat die departement en die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding (Umalusi), wat die uitslae as geloofwaardig goedgekeur het, redelik vroeg al die houding ingeneem het dat die gehalte van die matrieksertifikaat nie ondermyn sal word nie ondanks die pandemie.

Mmusi Maimane, leier van die One South Africa-beweging, het ná afloop van die uitslae gesê Motshekga se kop moet as die minister van onderwys rol.

Dit gaan vir hom nie soseer oor die matriekuitslae nie, maar oor fundamentele gebreke in die skoolstelsel wat verandering verg.

Hy wys daarop dat die uitslae ook gewys het dat minder leerlinge in wiskunde en fisiese wetenskap geslaag het as in vorige jare. Die kwessie is vir hom ook kommerwekkend, want dié vakke is juis veronderstel om leerlinge toe te rus vir die veranderende ekonomie.

Die DA sê ’n verklaring dat die “werklike matriekslaagsyfer” sowat 44,1% is.

Bax Nodada, DA-woordvoerder oor onderwys, sê die DA het dit bereken deur die getal leerlinge wat in 2018 in gr. 10 ingeskryf was (997 872) te vergelyk met die getal (578 468) wat matriek in 2020 geskryf en geslaag het.

“Jare lank ly die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel onder ’n program wat nie die toekoms van leerlinge vooropstel nie. Weens dié nalatenskap het baie kinders uit die onderwysstelsel geval en is hulle vergete,” lui die verklaring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.