Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Marelie al Vrystater met 10 A’s in 2020 se matriekeindeksamen
Marelie Bester van die Hoërskool Ficksburg is sover bekend nou al Vrystater met 10 onderskeidings in 2020 se matriekeindeksamen in die provinsie.Foto: Verskaf
Marelie Bester wil eendag ’n mediese fisikus wees.Foto: Verskaf
Marelie op die hokkieveld. Foto: Verskaf

Ficksburg bars vir die tweede agtereenvolgende jaar van trots omdat hy die leerling met die meeste onderskeidings in die Vrystaat in die matriekeindeksamen opgelewer het.

Marelie Bester, veelsydige oudleerling van die Hoërskool Ficksburg, is nou met 10 A’s die Vrystater met die meeste onderskeidings in 2020.

Dit kom nadat Uzma Anwarey van die skool 11 onderskeidings in 2019 behaal het, wat toe die meeste A’s in die provinsie was.

Naas 8 skoolvakke, het Marelie ook onderskeidings in alfa-wiskunde en toegepaste wiskunde in die onafhanklike eksamen behaal. Saam met onderskeidings in

wiskunde, fisiese wetenskap, rekeningkunde, Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, rekenaartoepassingstegnologie en lewenswetenskap spog sy met ’n voltal van 10.

In wiskunde, fisiese wetenskap en rekeningkunde het sy ’n verstommende 99% aangeteken.

Vroeër is berig Christi Dempers van die Hoër Meisieskool Oranje, Marc van der Nest van die St. Andrew-skool, Wikus Vorster van die Hoërskool Jim Fouché en Daniel van Wyk van die Hoërskool Hennenman het elk nege onderskeidings in 2020 se eindeksamen behaal. Van hulle het ook onderskeidings behaal in vakke wat onafhanklik afgelê is.

Skool en gemeenskap

Hendrik van Zyl, hoof van die Hoërskool Ficksburg, sê die skool is baie trots op Marelie.

“Marelie het hard gewerk daarvoor en verdien dit. Sy is ’n sterk leier, was ons hoofmeisie en is sportief.”

Hy is dankbaar dat die skool weer die leerling met die meeste onderskeidings in die provinsie opgelewer het.

“Ek is trots op die onderwysers by wie die leerlinge van gr. 8 tot matriek klas gehad het. Die basis wat van gr. 8 gelê is, is van hoë gehalte.”

Marelie se prestasie is ’n riem onder ’n vaderhart. Pa Nico sê sy nate bars van trots.

Marelie op die tennisbaan. Foto: Verskaf
Marelie Bester in aksie op die sportveld.Foto: Verskaf
Marelie Bester lees, draf en klim graag berg in haar vrye tyd.Foto: Verskaf

“Sy’s ’n verskriklik toegewyde, harde werker. Wat sy doen, doen sy 120%.”

Nico sê Marelie het ’n groot omgeehart. Gelykheid is vir haar belangrik. Sy is gemotiveerd en gedissiplineerd.

Hy sê die gemeenskap het ongelooflik op Marelie se prestasie reageer.

“Ek raak sommer bewoë as ek daaraan dink. Ons is verskriklik trots. Ek het oproepe gekry van mense wat ek omtrent nie eens geweet het wie dit is nie.”

Sy droom vir Marelie is dat sy gelukkig sal wees.

Hy en sy vrou, Annine, het nog twee ouer kinders, Cecile en Hendrik, wat aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

Volgens Nico is Marelie onder die topvyf in die land vir alfa-wiskunde.

Pa en dogter is trots dat Ficksburg die tweede jaar agtereenvolgens so uitblink.

Stellenbosch

Marelie het Sondag in Stellenbosch aangekom, waar sy van Woensdag in die Serruria-vrouekoshuis sal inwoon.

Sy begin op 15 Maart met haar studies in laserstroomradiasie en gesondheidswetenskap aan die Universiteit Stellenbosch om ’n mediese fisikus te word.

Sy wil in die onkologieafdeling van hospitale werk en die toedienings bereken wanneer kankerpasiënte behandel word.

Sy is opgewonde oor die studentelewe, maar sal die Ficksburg-gemeenskap mis.

“Ons is ’n klein dorp, ons almal ken mekaar. Die ondersteuning by so ’n plek is fantasties.”

Sy werk al hard van laerskool af, maar het op hoërskool nog meer uitgehaal.

“Ek besef nou my harde werk het verlede jaar geloon.”

Marelie sê sy is nie noodwendig die slimste nie, maar het hard gewerk. Haar ouers en onderwysers het haar ook baie ondersteun.

Sy is ’n vasbeslote mens. “Dit was ’n moeilike jaar, maar ek kon darem deurdruk.”

Sy het aan hokkie, tennis, landloop en atletiek deelgeneem en veral in die 400 m-wedloop, verspring en driesprong uitgeblink.

Marelie glo in balans. Hoewel sy die tyd aan sport tydens die pandemie vir leerwerk benut het, glo sy ’n mens kan nie net leer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.