Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Matriek wat druip, maak belofte aan ouers oor toekoms
Obelogeng Moreki: “Dis nie die einde as jy matriek druip nie”.Foto: Facebook

Terwyl talle matrieks Woensdag landwyd gejubel het oor ’n slaag- of onderskeidingspunt, was daar net trane van teleurstelling en hartseer vir Obelogeng Moreki (18).

Dié oudleerling van die Zinniaville Secondary School in Rustenburg, Noordwes, het egter besluit hy gaan nié in sak en as sit of dom dinge doen soos om sy eie lewe te neem nie.

Hy is nou vasbeslote om hard te leer sodat hy in Junie weer die vakke kan skryf wat hy gedruip het, om dié keer te slaag. Obelogeng, ’n ywerige sokkerspeler, droom daarvan om sportbestuur te studeer of ’n akteur of sanger te word.

Hy het Donderdag telefonies uit sy tuisstad vertel hy het nie verwag om te druip nie. “Eers kon ek Woensdag om 01:00 nie my eksamennommer met my uitslae aanlyn kry nie. Toe ek later die oggend skool toe is, is bevestig ek het gedruip. Ek het gehuil omdat ek teleurgesteld in myself was en skaam omdat ek my ouers ook teleurgestel het.”

Obelogeng sê sy ma, Kgomotso, was aanvanklik ook omgekrap toe sy die slegte nuus kry. “Sy het eers vir my gevra wat fout gegaan het. Toe sê sy dis die lewe en dat ek myself moet verbeter en net verder my plig moet doen.”

Obelogeng het Donderdag erken hy het nie hard genoeg geleer nie. “Ek was nie toegewyd genoeg nie en het te veel uitgegaan. Nou besef ek studeer is iets wat ’n mens net op jou eie kan doen. Jy moet agter ’n tafel gaan sit. Ek gaan dit die volgende ses maande doen om matriek te slaag.”

Mamma en Pappa, ek is so jammer dat ek julle in die laaste ronde van my skoolloopbaan teleurgestel het. Baie dankie vir alles wat julle vir my gedoen het . . . ek belowe aan elkeen wat in my glo dat ek hierdie mislukking nie ignoreer nie.

Obelogeng het Woensdag so sleg gevoel oor sy swak prestasie dat hy vir sy ma ’n boodskap op Facebook gestuur het. “Ek wou iets doen om die las van my hart te verlig en ook vir ander matrieks wat gedruip het, hoop te gee dat dit nie die einde van die wêreld is nie en ’n mens weer kan probeer.”

Obelogeng het op Facebook aan sy ma en pa (Witness) geskryf:

“Mamma en Pappa, ek is so jammer dat ek julle in die laaste ronde van my skoolloopbaan teleurgestel het. Baie dankie vir alles wat julle vir my gedoen het . . . ek belowe aan elkeen wat in my glo dat ek hierdie mislukking nie ignoreer nie. Ek het reeds die vorm ingevul om die vakke wat ek gedruip het, weer te skryf.

“Ek belowe ek sal in Junie my bes doen en dat ek hierdie keer sal slaag. Geluk aan almal wat dit gemaak het . . . vir ander soos ek wat dit nie gemaak het nie: Moenie moed opgee nie. Ons het steeds ’n kans in die lewe. Ons kán dit maak, ouens! Saam kan ons dit doen. God seën julle almal.”

Mmaphefo Matsemela, LUR vir onderwys in Noordwes, het Woensdag met die bekendmaking van Noordwes se matriekresultate in Rustenburg gesê die departement sal leerlinge wat nie geslaag het nie, bystaan met onder meer die Tweede Kans-matriekprogram. “Hulle kan met die hulp van hierdie program bykomende hersieningsmateriaal vir elke vak en ekstra lesse kry. Daar is ook kampe en sentrums waar hierdie leerlinge kans kan kry om vir die eksamen voor te berei.”

Die Facebook-boodskap wat Obelogeng Moreki van Rustenburg in Noordwes aan sy ma, Kgomotso, gestuur het nadat hy gehoor het hy het matriek gedruip. Foto: Facebook

Meer oor:  Matriekuitslae  |  Matriek 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.