Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Matriek: Wes-Kaaps se gehalte 'die beste'

Die Wes-Kaapse regering glo dit is baie belangriker om meer leerlinge is die skoolstelsel te behou en ’n kans te gee om matriek te slaag, as om leerlinge padlangs te “verloor” sodat skole ’n hoër slaagsyfer kan behaal.

“As ons dus die matriekslaagsyfer oorweeg, is dit belangrik dat ons die behoud van leerlinge in ag neem deur die aantal wat vir die matriekeksamen ingeskryf is, te vergelyk met die aantal graad 10-leerlinge wat twee jaar vantevore ingeskryf is,” sê Debbie Schäfer, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap.

Dit sê sy, staan bekend as die “regte matriekslaagsyfer”.

Hoewel die Wes-Kaap se 2018-matriekslaagsyfer van 84,4% in 2017 gedaal het tot 81,5%, wys die provinsie se eie gehalteaanwysers “weer eens ’n volgehoue verbetering in die Wes-Kaap”, het Schäfer gister by Masibambisane Senior Sekondêre Skool in Delft gesê.

Sy het gesê hoewel die matriekuitslae in die Wes-Kaap ietwat swakker is as vorige jare, is die gehalte van die uitslae in die Wes-Kaap iets om op trots te wees. Sy het die 41 350 leerders in die provinsie wat die paal gehaal het, lof toegesing.

Sy sê die Wes-Kaapse regering het nog altyd volhou dat gehalte-aanwysers ver bo die algehele slaagkoers as maatstaf gebruik moet word.

Die totale persentasie kandidate wat matriek geslaag het, het van 75,7% in 2009 tot 81,5% in 2018 toegeneem - ’n styging van 5,8%.
Debbie Schäfer

“In die provinsie fokus ons op die kwaliteit van die slaag en die behoud van soveel leerders as moontlik in die skoolstelsel sodat die beste moontlike geleenthede vir jongmense in die provinsie verseker kan word. Ek is dus bly dat ons gehalteaanwysers weereens ’n volgehoue verbetering in die Wes-Kaap toon,” het Schäfer gesê.

Sy sê die totale persentasie kandidate wat matriek geslaag het, het van 75,7% in 2009 tot 81,5% in 2018 toegeneem - ’n styging van 5,8%.

Nomsa Marchesim, die DA se woordvoerder oor basiese onderwys, het gesê die “regte slaagsyfer” vir elke provinsie onthul dat slegs die Wes-Kaap 62% van sy gr.10’s in 2016 behou het om betyds matriek te voltooi.

“Die Vrystaat, met die grootste afname in die land, is al berug vir die ‘uitdun’ van leerlinge, waar hulle doelbewus teruggehou word om die slaagsyfers op te druk,” het Marchesim gesê.

Ook die EFF het eergister daarop gewys dat as die uitvalkoers in ag geneem word, was die slaagsyfer net 34,2%.

Schäfer het Gauteng op hul nommer een posisie vir matriekslaagsyfer gelukgewens en bygevoeg dat die Wes-Kaap self verskeie prestasies het om op trots te wees (kassie).

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys. Foto: Deon Raath

Schäfer sê dat die resultate van dié “regte slaagsyfer” ’n veel ander prentjie toon as wat deur die Angie Motshekga, die nasionale minister van onderwys bekend gestel is.

“Dit is teleurstellend dat die nasionale minister nie die resultate wat volgens die ‘inklusiewe mandjie maatstawwe’, bereken is, oor die afgelope twee jaar gebruik het nie.”

Die maatstawwe sluit in faktore wat ander aanwysers van sukses aanwys soos wiskunde, natuur- en skeikunde, die Baccalaureus-slaagsyfer en die behoud van leerlinge.

“Ons glo dat dit ’n baie meer akkurate voorstelling van sukses is.”

Die departement van basiese onderwys het egter gister aantygings dat die matriekslaagsyfer van 78,2% “misleidend” is verwerp en benadruk dat die regering groot beleggings maak om leerlinge van gr.1 af te behou.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van departement, het gesê die organisasies en akademici wat herhaaldelik wys op die aantal leerlinge wat van gr.1 tot matriek behou word “begin al soos ’n stukkende plaat klink”.

Opposisiepartye en akademici het aangedui het dat slegs sowat die helfte van leerlinge wat in 2007 in gr.1 ingeskryf het, teen 2018 die matriekeksamen afgelê het en wou weet wat van die ander geword het.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) gaan stappe doen ná die aanvalle van Julius Malema, EFF-leier, en ander lede van die party op die media. Foto: Felix Dlangamandla

Mhlanga het verwys na onder meer ’n motorongeluk in Bronkhorstspruit waarin 18 leerlinge in April 2017 dood is en dat talle ander ook daardie jaar dood is.

“Moet ons nou dié leerlinge bytel wanneer hul klasmaats matriek bereik?”

Nic Spaull, onderwyskenner en senior navorser aan die Universiteit Stellenbosch se departement van ekonomie, het gister gesê rondom 400 000 kinders wat in 2007 in gr.1 ingeskryf het, het die skool verlaat en die departement bied geen aanduiding of hulle verdere onderrig ontvang nie.

Prof. Jonathan Jansen, voormalige rektor van die Universiteit van die Vrystaat wou ook gister van die regering weet waar die meer as 400 000 verlore leerlinge is.

Ook die EFF het eergister daarop gewys dat as die uitvalkoers in ag geneem word, was die slaagsyfer net 34,2%.

“Dit word vererger deur die feit dat die regering nie ’n poging aanwend om na te gaan of dié leerlinge werklik die skool verlaat het, elders verdere onderrig ontvang of by die werksmag aangesluit het nie.”

Hierop is die Wes-Kaap trots

Daar is ’n toename in leerders wat met toegang tot baccalaureusgraad geslaag het.

Die provinsie het homself weer as die voorloper in wiskunde- en wetenskap-uitslae gevestig.

In Wiskunde het die Wes-Kaap weer die hoogste slaagsyfer behaal, wat van 73,9% in 2017 tot 76% gestyg het.In Fisiese Wetenskappe het die Wes-Kaap ’n slaagsyfer van 79,5% behaal, ’n toename van 72,0% in 2017.

Die Wetenskap-slaagsyfer het van 52,9% in 2009 gestyg tot 79% in 2018 - ’n indrukwekkende toename van 26,1%


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.