Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Matrieks hoor gou oor herskryf

Matrieks hoor waarskynlik dié week of hulle die twee vraestelle wat uitgelek het, sal moet oorskryf.

Die departement van basiese onderwys (DBO) het aangedui hulle sal die uitslag van die Valke se ondersoek na die uitlek van die tweede vraestel in wiskunde en fisiese wetenskap teen môre bekend maak.

Al ontken die departement dit, is ’n Gautengse matriekleerling en van haar vriende, sommige in ander provinsies, oortuig dat die eerste wiskundevraestel ook uitgelek het. “Ek het ’n skermfoto per WhatsApp van die oorspronklike boodskap met ’n foto van ’n deel van die wiskundevraestel daarop,” sê sy.

Wat as ons nou van die vraestelle moet oorskryf? Wanneer gaan ons dan eendag ons punte kry?

“Dit lyk presies soos die vraestel wat ek geskryf het en die foto is aan my gestuur deur ’n vriend wat dit weer by iemand anders gekry het nadat ons klaar geskryf het. Maar op die foto kan jy sien die oorspronklike boodskap is 07:00 die oggend voor die toets wat 09:00 begin het gestuur.”

Die DBO sê egter dit was inderwaarheid ’n aanvullende vraestel van ’n vorige jaar wat in KwaZulu-Natal versprei is.

“Die DBO het reeds daarvan geweet en was besig om dit te ondersoek toe ons hulle daarvan in kennis stel,” sê Basil Manuel, uitvoerende direkteur van die onderwysersvakbond Naptosa.

Die matriekleerling, wat anoniem wou bly, het ook foto’s van die tweede vraestelle vir wiskunde en fisiese wetenskap gekry, “ook nadat ons klaar geskryf het, maar dis duidelik dat ander kinders dit voor die eksamens gehad het”.

Ná ’n vergadering tussen Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys, met vakbonde Saterdagmiddag verstaan Rapport die minister, Angie Motshekga, sal vroeg in die week aankondig of die vraestelle herskryf gaan word of nie.

Manuel sê sodra daar ’n lekkasie is, is daar altyd die moontlikheid van herskryf.

Volgens die laaste inligting wat die departement aan hulle voorgehou het, het ongeveer 200 leerlinge definitief toegang gehad tot die tweede wiskundevraestel.

“Ons wil ’n gelokaliseerde herskryf sien. En ons wil weet wánneer het kinders hierdie vraestelle gekry.”

Manuel sê volgens hul inligting was party al by die skool en amper op pad by die eksamenlokale in toe hulle dit eers kry.

“Moenie vir my sê daardie kinders kon daarby baat vind nie.”

Hy sê een ding is duidelik: Dis nie ’n kind wat die vraestelle laat uitlek het nie. Manuel sê hy verstaan dis ’n moeilike kwessie, maar is bekommerd omdat die proses so lank duur.

Die Gautengse matrikulant sê: “Dis aaklig om so onseker en bang te voel en dit maak jou moedeloos, want waarvoor werk ons so hard? Ons wil nou net klaarmaak; die jaar was moeilik genoeg. Ons wil ons rapporte kry en universiteit toe gaan en fokus op ons toekoms.

“Soos dit is, kry ons op die oomblik reeds eers in Februarie volgende jaar ons punte, wat later is as gewoonlik. Wat as ons nou van die vraestelle moet oorskryf? Wanneer gaan ons dan eendag ons punte kry en by die universiteit uitkom?”

Sy sê sy verstaan nie hoe so iets kon gebeur nie en is bang dit gebeur ook met ander vraestelle.

“Toe ons besef dat die vraestelle uitgelek het en ons dalk sal moet oorskryf, was dit net een te veel.”

Vraestelle volg ’n eenvoudige paadjie voor dit by die skool land. Meer as een vraestel word opgestel en gemodereer. Die eksaminator weet ook nie watter een uiteindelik gebruik sal word nie. Daarna word vraestelle op ’n bepaalde tyd na goedgekeurde drukkers in die provinsies gestuur. Hier is kameras en ander veiligheidsmaatreëls van krag.

Daarna word dit gepak per hoeveelheid wat nodig is vir elke sentrum en in veilige distrikspakhuise gehou.

Die oggend voordat dit geskryf word, word beamptes van die skool afgevaardig om die vraestelle te gaan haal.

“Die stelsel is nie die probleem nie, dis die mense,” sê Manuel.

Volgens hom het daar nog nie genoeg plaasgevind om die integriteit van die hele eksamen in twyfel te trek nie.

“Dit ís natuurlik kommerwekkend, maar 200 uit derduisende is nie genoeg om vir die honderde duisende wat hard gewerk het hierdie jaar te sê hul kwalifikasie kan bevraagteken word nie.”

Die DBO het nie op Rapport se versoeke om kommentaar gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.