Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Matrieks skryf later ‘sodat sertifikaat tél’

Vanjaar se Nasionale Senior Sertifikaat (NSS), oftewel die matriekeindeksamen, is met ’n maand uitgestel.

Die eksamen begin nie meer in Oktober nie, maar wel in November, en sal tot Desember duur.

Die departement van basiese onderwys (DBO) het nog nie die presiese datums bekend gemaak of laat blyk teen wanneer die uitslae bekend gemaak sal word nie.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die afgelope week gesê die vraestelle is reeds opgestel.

“Ons wil nie ’n situasie hê waar die klas van 2020 se matrieksertifikaat in twyfel getrek kan word nie. Dit moet dieselfde geloofwaardigheid hê as enige matrieksertifikaat.”

Ander grade se kurrikulum word tot 80% van die oorspronklike werk verminder, maar nie dié van matriekleerlinge nie.

Die DBO het reeds in April aangekondig dat die 350 000 kandidate wat in Mei en Junie matriekeksamen sou skryf as deeltydse kandidate, of om hul punte te verbeter, dit saam met die eindeksamen sal aflê.

Dr. Francois Naude, onderwyskonsultant en navorsingsgenoot aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) se sentrum vir onderwyspraktyknavorsing, sê dit gaan oor meer as net die slaagsyfer.

“Die groter prentjie waarna mens moet kyk, is die deurvoersyfer, met ander woorde hoeveel graadeens wat ingeskryf het, uiteindelik matriek slaag.”

Volgens hom is dit moeilik om matriekkwalifikasies van jaar tot jaar te vergelyk. “Daar kan ’n jaar wees waar die skooljaar relatief goed gaan vir almal, maar daar is kleinkolle waar skoolgaan nie moontlik is nie weens onder meer diensleweringsproteste. Reken jy dit in?”

Vanjaar is ’n uitsondering, want álmal is deur die virus benadeel.

“Op ’n gelyke voet het kinders nie toegang gehad tot skole nie. Maar wat van die skole wat voortgegaan het met aanlyn skoolwerk?

“Ons is onseker oor hoeveel wel ononderbroke kon voortgaan met skoolwerk.”

Baie matrieks is uitgelewer aan selfstudie – sonder bystand, waarsku hy. Dit is nie noodwendig moontlik vir daardie matrieks om weer in te haal nie, hoewel die DBO alles in sy vermoë doen om matrieks by te staan.

Naude sê niemand kan régtig bepaal of die gehalte van die kwalifikasie dié jaar dieselfde gaan wees as vorige jare nie. Volgens hom is die uitdagings ook nie uniek tot Suid-Afrika nie – skoolopvoeding is wêreldwyd ontwrig.

Hy voorspel vanjaar se uitslae sal vergelykbaar wees met dié van vorige jare, maar met ’n effense verlaging in punte. “Die rede is nie omdat hulle nie die eksamen sal voltooi nie, maar eerder omdat sommige leerlinge miskien om finansiële redes nie sal terugkeer skool toe ná die inperking nie.”

Melanie Buys, onderwysspesialis by die Skole-ondersteuningsentrum (SOS), is optimisties.

“Afrikaanse skole en onderwysers wat lede is van die SOS het gedurende inperking baie hard gewerk om hul leerlinge te steun. Gestruktureerde programme is steeds gevolg, met gereelde opdragte wat aanlyn, per WhatsApp of in harde kopie beskikbaar gestel is, aangevul deur aanlyn – of selfs telefoniese – klasse.

“Noudat kontakonderrig hervat is, bied die meeste wiskunde- en wetenskaponderwysers ook middagklasse aan.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.