Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Matrieks: Umalusi gaan nie lê

Ja, die matrieks hoef die uitgelekte wiskunde- en fisiese wetenskappe-eksamenstelle nie oor te skryf nie, maar dit beteken nie die departement van basiese onderwys (DBO) gaan net lê nie.

Die DBO het Saterdag in ’n verklaring gesê hy aanvaar en bevestig die eksamenstelle sal nie oorgeskryf word nie, maar sal die hof nader oor “ ’n klomp” aspekte in die uitspraak wat nie onbetwis kan bly nie.

Toe Rapport die woordvoerder, Elijah Mhlanga, vir voorbeelde van dié aspekte vra, het hy gesê volgens regter Norman Davis se uitspraak is die raad vir onderwysministers (die minister en die nege provinsiale LUR’e) nie ’n “formele liggaam” nie. Maar volgens Mhlanga is dit nie waar nie, want die raad is ingevolge art. 9 van die Wet op die Nasionale Onderwysbeleid van 1996 gestig.

‘Toe stop ons die klas net daar!’

Die departement weet nog nie wanneer hy die hof sal nader nie.

“Daar is tyd vir ons om dit te doen,” sê Mhlanga.

Erhard Prinsloo van PWG Prokureurs in Ermelo, wat die departement laas Saterdag al met regstappe gedreig het, sê hulle is dankbaar oor die besluit. “Dit was ’n goed gefundeerde uitspraak en regter Davis het volledig aan alle aspekte aandag geskenk.”

Onderwysersvakbonde het gistermiddag met Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys, vergader, maar Rapport verstaan nie ’n woord is oor die uitspraak gerep nie.

“Die DBO het taamlik afgehaal gelyk,” sê ’n bron.

Matrikulante, skole, onderwysers en ouers het Vrydagmiddag gevoel asof hulle vir die eerste keer in ’n week kan asemhaal toe hulle hoor hulle hoef die eksamenstelle nie oor te skryf nie.

Die dringende hof het vier aansoeke tegelykertyd aangehoor en beslis die besluit om die herskrywery aan te kondig was onreëlmatig en onwettig en moet tersyde gestel word.

’n Vrou wat al tien jaar ekstra wiskundeklasse vir matrieks in die noordelike voorstede van Kaapstad gee, sê daar was Vrydagmiddag ’n matrikulant by haar toe die hof se uitspraak bekend word.

“Toe stop ons sommer net daar met die klas!” lag sy.

Oomblikke nadat Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, verlede Vrydag aangekondig het die matrieks moet oorskryf, het dié onderwyser al versoeke gekry om aan te hou met klasse en ekstra klasse aan te bied.

Volgens haar was kinders die afgelope week “moedeloos en moeg”, maar sy dink tog ouers en skole het met hulle gepraat en hulle ’n bietjie moed ingepraat.

Lara Taylor, ’n matriekleerling van Gauteng, sê haar senuwees was gedaan.

“Toe ons die nuus hoor, het ek letterlik begin huil. Ons het eers gaan kyk of dit waar is, want jy kan nie sommer enigiets glo hierdie jaar nie. Daar het al so baie gebeur dié jaar en fopnuus wat jou opgewonde kry en dan sê tannie Angie nee, jy moet weer skryf.”

Die meeste van Taylor se vriende sê hulle het fisiek nie meer krag oorgehad om daarvoor te leer nie.

Wikus du Preez, ’n matriekleerling van Mpumalanga wat in Durban in die koshuis is, sê hy het reeds sy wiskunde-aantekeninge en -boeke huis toe geneem.

“Ek sal nie sê ek’s iemand wat aangelê is vir syfers nie. So, ek het klaar harde klippe gekou met die oorspronklike wiskundetoetse . . . Ek is baie gelukkig om te weet ek hoef nie weer te skryf nie, want daai toets sou my toekoms bepaal en sonder notas of boeke het my toekoms baie swaar begin lyk.”

Die vakbonde Naptosa, die SAOU en Sadou was onder die verskeie organisasies wat die jongste verwikkelinge verwelkom het.

Die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding (Umalusi) het volgens die uitspraak aangedui die DBO móét die vraestelle laat herskryf. Vrydag het Umalusi in ’n verklaring laat hoor hy kan nie nou al finaal oor die integriteit en geloofwaardigheid van die eksamen besluit nie.

Basil Manuel, besturende direkteur van Naptosa, sê daar lê ’n bedreiging opgesluit in Umalusi se verklaring.

“Maar om daardie dreigement (om die uitslae nie te sertifiseer nie) deur te voer, moet jy taamlik baie bewyse hê.”

Meer oor:  Elijah Mhlanga  |  Matriekeksamen  |  Vraestelle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.