Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Matrieks van Koffiefontein presteer ná noodplan

Die werk van ’n skoolhoof en haar onderwysers van Koffiefontein wat berge versit het om te verseker dat die matriekklas van 2018 te midde van voortstuwende onrus hul eindeksamen veilig skryf, het vrugte afgewerp toe 95,5% van die matrieks slaag.

Net een van die Hoërskool Koffiefontein se 22 matrieks, wat die eksamen geskryf het, het nie geslaag nie. Die groep het twee onderskeidings opgelewer en 40,9% van die klas het universiteitsvrystelling gekry.

Susan Nieuwoudt, skoolhoof, en haar span moes vinnig ’n plan bedink om die matriekeindeksamen te red. Dié leerlinge is ’n dag voor die matriekeindeksamen na die Hoërskool Landboudal in Jacobsdal, sowat 50 km van die dorp, geneem.

Die 2018-matriekklas van die Hoërskool Koffiefontein. Van links voor is: Nicole Madonzela, Philana Christie, Teslan Fredericks, Imelda Mabetha, Leeroy Magano en Marlon Hanse; agter: Francois Heydenreich, Mariaan Cohn, Ruan Rupping, Rita Cohn, Meagan Benson, Lincolin Remmelien, Bronwyn Michael, Ubenita Remmelien, Fernica van Wyk, Bronwyn Romain, Beverley Solomons, Geraldson May, Glisson Speak, Shaheed Rens, Gift Mayekiso en Wernigh Potgieter. Foto: Verskaf

Dit nadat betogers – wat griewe teen Thandiwe Reachable, burgemeester van die Letsemeng-munisipaliteit en die dorpsraad het – kom waarsku het die eksamen sal nie plaasvind nie.

Leerlinge en onderwysers het vir die duur van die eksamen, meer as vyf weke, in die Hoërskool Landboudal se koshuis en ’n huis gebly.

Die Vrystaatse onderwysdepartement het die skool per kind vergoed en het ook die Hoërskool Koffiefontein se reiskoste gedek.

“Ons is baie dankbaar dat ons die leerlinge die geleentheid kon gun. Hulle was voorbereid, maar dit was ’n groot omwenteling vir ons almal. Ons is dankbaar dat Landboudal ons ingeneem het en dat ons te midde van die omstandighede ’n goeie slaagpersentasie kon behaal,” sê Nieuwoudt.

Sy sê hulle is een van net vyf skole in die Xhariep-distrik wat die onderwysdepartement se slaagvereistes van ’n 40%-universiteitsvrystelling en 90%-slaagsyfer kon haal.

Die onderwysers het beurte gemaak om by die leerlinge te bly.

Die verbetering in hul punte was merkbaar – slegs een van die vier leerlinge wat nie die September-eksamen geslaag het nie, het nou gedruip.

Die Hoërskool Koffiefontein se hoofleiers van 2018, Bronwyn Micheal en Francois Heydenreich, vier hier die einde van die matriekeindeksamen. Foto: Verskaf

Leerlinge is Sondagaande na Jacobsdal vervoer en Vrydae weer terug na Koffiefontein.

“Ek dink van hulle was maar bekommerd oor hul mense wat anderkant was.” Van die onluste was voor leerlinge se huise.

Haar boodskap aan 2018 se matrieks is: “Hulle moet bou op die grondslag wat ons vir hulle gegee het en hulle moet van krag tot krag gaan.”

Meagan Benson, een van 2018 se matrieks is haar onderwysers en hoof, “wat nooit geskroom het om te help nie”, dankbaar vir hul ondersteuning.

Meagan sê hoewel dit uitdagend was om in ’n nuwe omgewing te wees, het haar onderwysers hulle gemaklik laat voel en was Landboudal se leerlinge vriendelik.

Meagan het in vier vakke bo 70% gekry. Vir Engels (eerste addisionele taal) het sy 79% gekry.

Sy gaan vanjaar aan die Vrystaatse verpleegskool studeer.

* Daar wag egter nog groot probleme vir die res van die skool en ander skole. Leerlinge in ander grade het glad nie die laaste eksamen geskryf nie.

Nieuwoudt sê hulle wag vir opdrag van die onderwysdepartement oor hoe die leerlinge geëvalueer sal word – of daar nog ’n eksamen gaan wees en of leerlinge se gemiddelde punte gebruik sal word.

“Dit is vir ons ’n bekommernis.”

Die skool sal voorlopig Woensdag open, maar leerlinge sal nog in verlede jaar se klasse wees. As die skool nie Dinsdag duidelikheid van die departement kry nie, gaan hulle die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) nader.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.