Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Matrieks: Wes-Kaap derde in land

Die Wes-Kaap het weer die derde beste gevaar in die nasionale matriekslaagsyfer vir 2018, wat op ’n nasionale grondslag verbeter het tot 78,2%. Dít is 3,1 persentasiepunte beter as 2017 se slaagsyfer van 75,1%.

Dié aankondiging is Donderdagaand deur Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, in Midrand gedoen.

Die syfer sluit die leerlinge in wat voorheen gedruip het en nogtans na die volgende graad deurgesit is.

Angie Motshekga
Angie Motshekga kondig Donderdag die matriekuitslae in Midrand aan. Foto: Felix Dlangamandla

“Die laaste paar jaar het ons gesien dat die matriekslaagsyfer heeltyd deur die voormalige drempel van 70% gebreek het.

“Die klas van 2018 moet gelukgewens word omdat hulle hierdie tendens voortgesit het,” het Motshekga gesê.

Die matriekuitslae wys dat die getal leerlinge wat in aanmerking kom vir voorgraadse studie van 28,7% (153 610) tot 33,6% (172 043) toegeneem het.

“Dit is die hoogste getal matrikulante wat in demokratiese Suid-Afrika nog universiteitsvrystelling gekry het,” het die minister gesê.

Dit kom nadat die departement in September aangekondig het dat matrikulante in 2018 enige vier keusevakke kan slaag om vir ’n voorgraadse universiteitsgraad in aanmerking te kom.

In die verlede het slegs dié wat uitgesoekte keusevakke geslaag het, toelating gekry. Die getal leerlinge wat in aanmerking kom vir ’n nagraadse diploma is 141 700.

In 2018 het altesame 157 880 matriekkandidate onderskeidings behaal, wat minder is as die 161 080 in 2017. Die provinsies wat die meeste onderskeidings opgelewer het, was KwaZulu-Natal (41 730), Gauteng (36 110) en die Wes-Kaap (24 820).

Die getal onderskeidings in die sleutelvakke soos wiskunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, rekeningkunde en ekonomie het in vergelyking met 2017 met 4,6% tot 58 806 gedaal.

Ons het die hele resies voltooi en ons is trots daarop.

Gauteng is die provinsie wat die beste gevaar het met 87,9%, ’n verbetering van 2,8 persentasiepunte in 2017. Die Vrystaat (87,5%) het die tweede beste gevaar, gevolg deur die Wes-Kaap (81,5%). Slegs Limpopo (69,4%) het minder as ’n 70%-slaagsyfer behaal.

Meer as 800 000 matrikulante het die matriekeindeksamen afgelê, wat volgens Motshekga die grootste groep matrikulante tot nou toe is.

“Dit is die eerste groep waar ons as land 12 nuwe vakke, insluitend gebaretaal, aangebied het.”

Sy het 2018-matriekuitslae as ’n waterskeidingsoomblik beskryf.

“Die matriekuitslae begin stabiliseer. Meer moet egter gedoen word om doeltreffendheid en gehalte te verseker. Ons is nie die stadigste in die marathon nie.

“Ons het die hele resies voltooi en ons is trots daarop,” het Motshekga gesê.

Nomsa Marchesi, die DA se woordvoerder oor basiese onderwys, het in reaksie op die uitslae egter gesê byna die helfte van die leerlinge wat in 2007 in gr. 1 was, het nie in 2018 die matriekeksamen geskryf nie.

Sy het gesê Motshekga het dié feit verswyg.

Volgens Marchesi laat die ANC-regering laat sukkelende leerlinge in die steek net om die slaagsyfer beter te laat lyk

Die leerlinge wat nie matriek geskryf het nie, het óf grade herhaal, óf verlore gegaan, het Marchesi in ’n verklaring gesê.

Sy het gesê die onderwysstelsel in die land het onder die ANC-regering misluk.

Die rol wat die nuwe stelsel van veelvuldige eksamengeleenthede (MEO), waarin ’n leerder ’n minimum van drie vakke in November van die een jaar skryf en die res in die Junie die volgende jaar, is volgens die DA ’n onding.

In die Oos-Kaap, Limpopo, Mpumalanga en die Noord-Kaap het 15% van die kandidate in November 2018 net sommige van hul eksamens geskryf.

“Die DA is bekommerd dat dié leerlinge nie vanjaar in die oorblywende eksamens sal skryf nie.

“Toe ons die direkteur-generaal van basiese onderwys verlede jaar gevra het hoeveel van die leerlinge in 2018 die res van die eksamens geskryf het, kon hy nie vir ons sê nie.

“As dié leerlinge nie hul eksamens voltooi nie, word hulle eenvoudig uit die stelsel gelaat om die provinsiale slaagsyfers kunsmatig te verhoog,” het Marchesi gesê.

Die stelsel het die potensiaal om duisende leerlinge wat nie die MEO voltooi nie, verlore te laat gaan.

Marchesi het gesê in die Wes-Kaap word leerlinge in die stelsel gehou.

“Ons sal aanhou veg om seker te maak leerlinge kry die beste moontlike geleenthede om die volwasse wêreld tegemoet te gaan. Dit is in teenstelling met die ANC wat eenvoudig sukkelende leerlinge in die steek laat.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.