Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Matrieks
Matriekslaagsyfer is glo die hoogste ooit

Die regering gaan na verwagting Woensdag aankondig dat die matriekklas van 2019 ’n rekord opgestel het deur vir die eerste keer ’n slaagsyfer van meer as 80% te behaal.

’n Bron in die departement van basiese onderrig het bevestig die slaagsyfer “is die hoogste tot nog toe”. Sy skryf dit toe aan ingrypings soos vakansieskole. Verlede jaar se slaagsyfer was 78,2%.

“Die groot ding is dat die departement die styging sal moet verduidelik, anders gaan mense ons daarvan beskuldig dat ons die uitslae bekook het,” sê sy.

Melanie Buys, onderwyskenner van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê die regering kan dit nie bekostig om ’n laer slaagsyfer te hê nie en sal moeite doen om die slaagsyfer te lig.

‘Ons kan net verder op.’

“Ons verwag wel minder skole met slaagsyfers laer as 30%, aangesien die meeste provinsiale departemente moeite doen om onderpresterende skole te ondersteun.”

’n Senior beampte in die departement van basiese onderwys (DBO) in die Oos-Kaap het aan City Press, susterskoerant van Rapport, gesê haar provinsie het die grootste verbetering getoon.

“Wat ek kan sê, is dat ons aan die ander kant van 75% is, op vanaf 70,6% in 2018. Ons het baie hard gewerk.”

’n Beampte in die Vrystaat het gesê hulle het Gauteng onttroon as die provinsie met die beste slaagsyfer. “Ons is die provinsie met die beste slaagsyfer, gevolg deur Gauteng, Noordwes en die Wes-Kaap.”

Panyaza Lesufi, LUR vir basiese onderwys in Gauteng, het gesê sy departement het “miljarde rande belê in infrastruktuur, stabilisering van die kurrikulum, en ontwikkeling van onderwysers.”

“Ons kan net verder op,” sê hy oor die slaagsyfer.

Prof. Mary Metcalfe, onderwyskenner, sê dis nie ’n verrassing dat die slaagsyfer sal styg nie.

“Die nasionale slaagsyfer het stadig maar seker oor die laaste tien jaar verbeter van 62,6% in 2008 tot 78,2% in 2018.

“Die syfer sê egter vir ons baie min van die prestasie van die stelsel. Dit sê vir ons dat sowat 80% van die leerlinge wat gr. 12 haal – wat slegs 60% van dié is wat skool begin – deurgekom het. Ons moet onthou dit is slegs 37% van diegene wat hul skoolloopbane begin het. Ons fokus moet op dié wees wat langs die pad uitgeval het.”

Verlede jaar se matrikulante is op hete kole om hul uitslae in die komende week te kry.

Die raad vir gehalteversekering (Umalusi) het die uitslae Vrydag amptelik gesertifiseer.

Umalusi het bekend gemaak dat 47 van die 67 vakke se punte onveranderd gelaat is.

Sewe vakke se punte is afwaarts aangepas en 13 vakke se punte is opwaarts aangepas. Umalusi het nie bekend gemaak met hoeveel dit aangepas is nie.

Maryna Besseling, professionele adviseur van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) wat die Umalusi-standaardiseringsproses waargeneem het, sê hulle het geen besware oor die proses gehad nie. Sy het die aanpassings as “minimaal” beskryf.

Besseling sê die gemiddeld vir wiskunde is baie laag en moet dringend aandag geniet.

Fisiese wetenskap se gemiddeld het egter aansienlik verbeter.

Buys sê hulle verneem besigheidstudies se punte is afwaarts aangepas. Daar was verlede jaar groot ongelukkigheid omdat hordes leerlinge se besigheidstudiepunte ongewoon laag was.

  • Uitslae vir IEB-leerlinge word Dinsdag vrygestel en die res kry hul uitslae Woensdag.
Meer oor:  Slaagsyfer  |  Matriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.